Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Getuienisse aan Suider-Afrika - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Raad Aan Sendelinge Op Pad Na Afrika (18 Junie 1887)

    Moss, Noorweë

    18 Junie 1887

    Geagte Broeders op Pad na ‘n Verre Arbeidsveld:

    Ek wou graag met julle gesels het, maar het nie die moed gehad nie, omdat ek my nie sterk genoeg gevoel het om reg aan enige onderwerp in persoonlike gesprekke te laat geskied nie. Wanneer ek voor die skare staan, word ek altyd deur die Here onderskraag.GSA 1.1

    Dit is baie belangrik dat julle heel by die aanvang van die werk reg te werk gaan. Dit is aan my getoon dat die werk in aan bande gelê is sonder dat dit die tasbare vooruitgang gemaak het wat dit kon gemaak het as die werk reg aangepak was.GSA 1.2

    Veel meer kon verrig gewees het met verskillende bestuursmetodes, en minder middele sou uit die skatkis gehaal moes geword het. ‘n Groot en heilige taak rus op ons in die verhewe waarhede wat aan ons toevertrou is. Ons is verheug dat daar manne is wat bereid is om ons sendingvelde ter wille van die liefde van Christus en hul medemens binne te gaan en teen geringe vergoeding te arbei om die waarheid bekend te maak aan diegene wat in die duisternis van die dwaling in verafgeleë lande verkeer. Geld weeg nie by hulle in die skaal teen die aansprake van plig en gewete nie.GSA 1.3

    Die manne wat hulle aan die groot taak wy om die waarheid te onderrig, is nie die manne wat deur rykdom gekoop of deur armoed afgeskrik kan word nie. Maar die Here verlang dat Sy afgevaardigde dienaars hulle gedurig moet verbeter. Ten einde die taak doelmatig te kon uitvoer, het die Here Sy dissipels twee-twee uitgestuur. God het'n kerk, en hierdie kerk word op die fondament van die apostels en profete georganiseer, met Jesus Christus self as die hoeksteen.GSA 1.4

    Geen enkeling se idees of planne moet oorheers in die voortsetting van die werk nie. Die een moet nie afsydig van die ander staan en sy planne en idees die maatstaf vir al die werkers maak nie. Die individuele lede wat saam uitgestuur is, moet saam oorleg pleeg. Die een moet nie afsydig van die ander staan en op sy eie weë en planne aandring nie, want hy kon moontlik in ‘n sekere rigting opgevoed gewees het en sekere karaktertrekke besit wat skadelik vir die werk sal wees as hy toegelaat sou word om die beheer oor te neem.GSA 1.5

    Die werkers moet nie afsonderlik van mekaar optree nie, maar moet saamwerk in alles wat verband met die saak van God hou. En een van die belangrikste sake wat oorweeg moet word, is selfverbetering. Te min aandag word aan hierdie saak gewy. Al die vermoëns moet ontwikkel word om verhewe en eerbare werk vir God te verrig. Wysheid kan in veel groter mate verwerf word as wat baie wat al jare in die saak van God gearbei het, hulle voorstel -'n wysheid wat geen mens nog bereik het nie. Daar is manne met enge idees, enge planne, en wat in ‘n enge groef arbei.GSA 2.1

    Dit sal die gevaar wees by die betreding van ‘n nuwe arbeidsveld - om te beplan en al die kragte in te span om so goedkoop moontlik oor die weg te kom. Nou, hoewel die toestand van die skatkis voortdurende spaarsaamheid noodsaak, is daar gevaar vir ‘n soort besparing wat eerder op ‘n verlies as op ‘n wins uitloop. Ons opgang in nuwe arbeidsvelde was oor die algemeen langsaam as gevolg van die sewendedag-Sabbat. Daar staan ‘n skerp kruis dwars in die weg van elke siel wat die waarheid aanneem.GSA 2.2

    Daar is ander waarhede, soos dié dat die siel nie onsterflik is nie en die spoedige persoonlike koms van Christus in die wolke na die aarde. Maar dit is nie so aanstootlik soos die Sabbat nie. Party sal die waarheid met'n oop gewete aanneem ter wille van die waarheid, omdat dit Bybelwaarheid is, en hulle het die weg van gehoorsaamheid aan al die gebooie van God lief. Hierdie aanstootlike kenmerke van ons geloof sal ‘n struikelblok vir baie siele wees wat nie graag ‘n uitverkore volk wil wees wat hom duidelik van die wêreld losmaak nie. Daarom is groot wysheid nodig in die aanbieding van die waarheid aan die mense. Daar is sekere duidelike mikpunte wat nagestreef moet word met juis die eerste voorstelling van ‘n sendingpoging. As ander planne en metodes gevolg was, selfs al sou dit meer kapitaalbelegging vereis het, sou dit veel beter resultate gelewer het.GSA 2.3

    Op party plekke moet daar stadig begin word. Dit is al wat hulle kan doen. Maar op baie plekke kan uit die staanspoor deegliker en meer vasberade te werk gegaan word. Maar daar moet nêrens lukraak, halsoorkop, en goedkoop te werk gegaan word nie. Die werk in die eeue-oue Engeland kon nou veel verder gevorder het as ons broeders nie so goedkoop te werk probeer gaan het nie. As hulle goeie sale gehuur het en die werk voortgesit het asof hulle oor groot waarhede beskik wat sal seëvier en asof God verwag dat hulle uit die staanspoor die heel beste indruk sal probeer maak sover dit van hulle afhang, sou die werk baie verder gevorder het as wat die geval nou is.GSA 2.4

    Handhaaf die verhewe aard van die sendingtaak. Laat sowel mans as vroue wat by sendingwerk betrokke is, hulleself afvra:GSA 3.1

    Wat is ek? en wat behoort ek te wees en te doen? Laat elke werker besef dat hy nie aan ander kan gee wat hyself nie het nie. Daarom moet hy nie in ‘n groef van eie gewoontes verval en versuim om hom te probeer verbeter nie. Paulus sê: “Nie dat ek dit al verkry het nie... maar ek jaag... na die doel om die prys te verkry.” Filippense 3:12, 14. Gedurige vordering,'n verbetering en hervorming, moet deur individue gemaak word om ‘n simmetriese, ewewigtige karakter te vervolmaak.GSA 3.2

    Onthou asseblief die woorde van aanmaning wat ek julle nou gee. Julle het ‘n volmaakter en meer simmetriese karakter nodig as wat julle nou het. Daar is geen mens wat nie maniere en gewoontes het wat nie hoef te verbeter nie, en as hierdie verbetering nie individueel met julle almal geskied nie, as julle nie gedurig in alle opsigte groter voortreflikheid nastreef nie, sal julle mekaar se werk baie strem. Gedurige vordering moet gemaak word met immer-wisselende veranderinge. Nuwe pligte sal ontstaan, nuwe arbeidsvelde oopgaan voor julle, en deeglik georganiseerde pogings sal sukses oplewer.GSA 3.3

    Daar is min wat enige van julle alleen kan uitrig. Twee of meer is beter as een, as die nederigheid daar is sodat julle mekaar beter as julleself sal ag. As julle dink julle planne en arbeidsmetodes is foutloos, misgis julle jul deerlik. Bespreek dinge saam met veel gebed en nederigheid, gewillig om toe te gee en om raad te aanvaar. Dit sal julle by die punt bring waar God julle Raadgewer sal wees. Die werk waarmee julle nou besig is, kan nie verrig word behalwe deur magte wat die resultaat van weldeurdagte planne is nie. As julle die taak met ‘n enge, goedkoop plan aanpak, soos hulle in [die Britse] sending gedoen het, sal dit nie meer gepas in Afrika wees as in enige Britse gebied nie, en sal dit geen wysheid in enige groot stad wees nie.GSA 3.4

    Daar moet gewaag en risiko’s geloop word deur hulle wat hulle op die slagveld bevind. Hulle moet nie by elke stap voel dat hulle bevele van die hoofkwartier af moet ontvang nie. Hulle moet hul beste in omstandighede doen en mekaar raadpleeg en ernstig tot God om Sy wysheid bid. Daar moet eendragtig opgetree word. Daar is veel wat beplanning sal vereis. Vandaar die noodsaaklikheid vir volkome eensgesindheid onder julle. As volk moet ons onder ons eie banier marsjeer.GSA 3.5

    Waar ons ook al in hervormingswerk met ander kan saamwerk in die lande waarheen ons gaan, sal dit raadsaam wees om dit te doen, maar daar is sekere dinge wat julle binne julleself moet doen en arbei in die wapenrusting wat God julle gegee het - nie die wapenrusting van enige besondere individu nie, maar om saam te werk in Christelike liefde en vriendelikheid. Laat nie een van julle die belangrikheid van jul sending gering skat en die werk verlaag deur goedkoop, minderwaardige beplanning om die waarheid aan die mense voor te hou nie.GSA 4.1

    Tree intelligent, verstandig en eendragtig op. Laat daar nie gepoog word om mense-eer te verhef nie, maar verhoog die Here en laat Hom julle vrees wees, julle ontsag en julle genoegsaamheid. Bou die gemoed op om opgewasse tot die taak te wees. Julle enge planne, julle beperkte idees, moet nie deel van julle arbeidsmetodes wees nie. In hierdie opsig moet daar hervorming wees, en meer middele sal inkom om dit vir die werk moontlik te maak om die verhewe posisie te bereik wat dit steeds behoort te beklee. Daar is bemiddelde mense wat'n besef van die aard van die werk sal kry, hoewel hulle nie die moed het om die kruis op te neem en om die smaad te verduur wat met'n ongewilde waarheid gepaard gaan nie. Bereik indien moontlik eers die hoë klasse, maar die laer klasse moet nie verwaarloos word nie.GSA 4.2

    Maar dit het gebeur dat die planne en pogings in vele arbeidsvelde so aangevoer is dat net die laer klasse bereik kon word. Maar metodes kan gevind word om die hoër klasse te bereik, wat die lig van die waarheid ook nodig het, net soos die laer klasse. Laasgenoemde sien die waarheid in, maar verkeer as’t ware in die slawerny van armoede en vrees dat hongersnood op hulle sal wag as hulle die waarheid aanneem. Probeer om die beste klasse te bereik, en julle sal nie versuim om die laer klasse te bereik nie. Die lamp word glad te veel onder die maatemmer of onder die bed weggesteek, en nie op die lampstander gesit sodat dit almal in die huis kan verlig nie. Mag die Here die arbeiders ware wysheid gee en ‘n ruime mate van Sy Heilige Gees, sodat hulle na God se orde kan werk en so hoog moontlik by God en die volk kan aangeskrewe staan. die Here het spesiale opdragte gegee vir die reëlings van die laer van die Israeliete - hoe dinge gedoen moet word. Alles moes in volkome orde geskied. Elke man het sy aangewese taak gehad. Geen enkele mens moes alles doen nie, maar elkeen het sy spesifieke taak gehad en moes dit getrou en noulettend uitvoer sodat die orde en harmonie en die verhewe aard van die werk die volke om hulle diep kon beïndruk, sodat hierdie volke kon sien dat Israel'n Heerser het wat die Here self is. So sou die werk en karakter van God nie voor die oë van volke wat ander gode gedien het as minderwaardig aangesien kon word nie.GSA 4.3

    Die een doel wat julle voor oë moet hou, is dat julle hervormers is en nie dwepers nie. Waar julle met ongelowiges te doen het, moenie'n laakbare, kleinlike gees aan die dag lê nie, want as julle oor ‘n nietigheid gaan kibbel, gaan julle op die ou end ‘n veel groter bedrag skade ly. Hulle sal sê: “Daardie man is ‘n swendelaar; hy sal jou uit jou regte bedrieg as hy moontlik kan; wees dus op jou hoede vir hom.” As ‘n transaksie effens in jou guns is en jy dit tot die ander se guns aanbied, sal daardie ander mens jou met dieselfde groothartigheid bejeën. Kleinlikheid verwek kleinlikheid, inhaligheid verwek inhaligheid. Mense wat hierdie houding inslaan, besef nie hoe laakbaar dit vir ander is nie, veral mense wat nie van ons geloof is nie; en die kosbare saak van die waarheid kry die stempel van hierdie gebrek.GSA 5.1

    Ons moet nie soos die wêreld te werk gaan nie. Ons moet aan die wêreld ‘n edeler voorbeeld stel en toon dat ons geloof van ‘n hoë en verhewe aard is. Doen aan ander soos julle graag wil hê dat hulle aan julle moet doen. Laat elke daad die adel van die waarheid openbaar. Wees getrou aan julle geloof, en julle sal getrou aan God wees. Kom na aan die Woord sodat julle kan leer wat dit werklik vereis. Wanneer God spreek, is dit julle plig om te luister en te gehoorsaam. Onthou dat alles in die wêreld volgens voorkoms beoordeel word; ondersoek daarom die Woord van God noukeurig, en sorg dat die voorskrifte wat aan Israel van ouds gegee is, julle reelings en planne bepaal. Omdat julle nie aan die wêreld gelykvormig moet wees nie, onthou dat ons geloof die stempel van sonderlingheid dra en van ons’n sonderlinge volk maak. Daarom moet alle eksentrieke idees en individuele eienaardighede en enge planne wat'n valse indruk van die grootsheid van die werk sal gee, vermy word. Geen werker moet kruise en pligte vervaardig nie; want die Bybel het die reël, die kruis en die weg aangegee.GSA 5.2

    Laat nie een van julle voel dat julle bo versoekings verhewe is nie, dat julle goeie beginsels het en niks vir julleself of die werk wat julle moet doen, hoef te vrees nie. Bewaak julleself ywerig. Julle sal julle harte gedurig voor God moet verootmoedig, sodat julle werk nie deur menslike verdorwenheid verydel sal word nie. Moenie eienaardige gewoontes aankweek nie, maar beywer julle elke dag van julle lewe vir die stempel van Christus. Bestudeer die Model.GSA 5.3

    Elkeen van julle wat in hierdie sendingtaak verenig is, sowel ons broeders as susters wat daaraan deel het, is manne en vroue met ‘n sterk wil. So behoort dit te wees, as elkeen tot dieselfde mate selfbeheersing beoefen. Maar hierdie les is nog nie so deeglik geleer soos dit behoort te wees nie. As julle gewillig is om sagmoedigheid en nederigheid van hart te leer in die skool van Christus, sal Hy julle gewis rus en vrede gee. Dit is ‘n baie harde stryd om jou eie wil en jou eie sin te laat vaar. Maar as julle hierdie les leer, sal julle rus en vrede vind. Trots, selfsug en ambisie moet oorwin word; jou wil moet verswelg word in die wil van Christus. Die hele lewe kan een voortdurende liefdesoffer word, elke daad ‘n openbaring en elke woord ‘n uitdrukking van liefde. Soos die lewe van die wingerdstok sirkuleer deur stam en tros, tot in die diepste vesels deurdring en die hoogste blaar bereik, so sal die genade en liefde van Christus in die siel brand en floreer en sy deugde na elke deel van die wese stuur en elke aksie van liggaam en gees deurtrek.GSA 6.1

    Ek wil weer by julle die noodsaaklikheid op die hart druk om uit die staanspoor julle werk op'n waardige, Godbehaaglike wyse aan te pak, sodat julle aan die invloed van die waarheid karakter kan gee wat julle weet van hemelse oorsprong is. Maar onthou dat groot sorg aan die dag gelê moet word in verband met die aanbieding van die waarheid. Lê groot self-beheersing aan die dag. Bepeins praktiese godsvrug, en weef dit in die leerstellige besprekings in. Die liefde en leer van Christus sal die hartakker sag en ontvanklik maak vir die goeie saad van die waarheid. Julle sal die vertroue van die mense win deur te trag om met hulle bekend te raak. Maar handhaaf die verhewe aard van die werk. Laat die publikasies, die tydskrifte, die pamflette onder die mense werk en die siel van die lesende klas voorberei vir die verkondiging van die waarheid. Laat daar nie suinig in hierdie opsig te werk gegaan word nie, en die werk sal, as dit verstandig aangepak en uitgevoer word, suksesvolle resultate lewer. Maar wees bo alles nederig en bereid om te leer as julle ander wil onderrig en ander op die weg van die waarheid en geregtigheid wil lei. - Brief 14, 1887.GSA 6.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents