Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Getuienisse aan Suider-Afrika - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    ‘n Tweede Brief van Raadgewing aan ‘n Sendeling in Afrika

    Brief B (15 Februarie 1900)

    “Sunnyside,” Cooranbong

    15 Februarie 1900.

    Geagte Broeder :

    Ek het enkele dinge aan geskryf, en nou skryf ek aan jou. My broeder, nou is die tyd om geloof in God te hê. Ons probeer alles in ons vermoë om vooruit te gaan.GSA 77.1

    Wat die kwessie van klas en kleur betref, sal niks bereik word deur'n besliste onderskeid te maak nie, maar die Gees van God sal bedroef word. Ons is almal veronderstel om ons vir dieselfde hemel klaar te maak. Ons het dieselfde hemelse Vader en dieselfde Verlosser, wat ons liefgehad en Homself vir ons almal oorgegee het, sonder onderskeid. Ons nader die einde van die aarde se geskiedenis en dit betaam geen kind van God om ‘n trotse, hoogmoedige hart te hê en die rug na ‘n siel te keer wat God liefhet of om op te hou arbei vir enige siel vir wie Christus gesterf het nie. As die liefde van Christus in die hart gekoester word soos dit behoort te wees, wanneer die soete, temperende gees van die liefde van God die sieletempel vul, sal daar geen klas wees nie, geen nasionale trots nie; sal geen onderskeid gemaak word weens die kleur van die vel nie. Elkeen sal die een help wat tedere sorg en troos nodig het, wat ook al sy nasionaliteit.GSA 77.2

    Vra julleself af of Christus enige onderskeid sou gemaak het.GSA 77.3

    Wanneer Hy Sy volk bymekaarmaak, sal Hy sê: Hier broeder, of, hier suster, jy is nie Joods nie; jy behoort aan ‘n ander klas? Sou Hy sê: Die wat donker velle het kan in die agterste banke gaan sit; die wat ligte velle het kan hier voorlangs kom sit?GSA 77.4

    Op een plek is voorgestel dat'n gordyn gespan word tussen die gekleurdes en die blankes. Ek het gevra: Sou Jesus dit gedoen het? Dit bedroef die hart van Christus. Die kleur van die vel is geen standaard om die waarde van die siel op te takseer nie. Deur die magtige kliewer van die waarheid is ons almal uit die wêreldgroef gekap. God het ons geneem, alle klasse, alle nasies, alle tale, alle nasionaliteite, en ons na Sy werkswinkel geneem om vir Sy tempel voorberei te word.GSA 77.5

    Daar is werk vir elke siel te verrig. Party is baie slordig van persoon. Hulle moet deur die Heilige Gees gelei word om hulle klaar te maak vir ‘n rein, heilige hemel. God het verklaar dat wanneer die kinders van Israel na die berg kom om te hoor hoe die wet afgekondig word, hulle met skoon liggame en skoon klere moet kom.GSA 78.1

    Die waarheid is veredelend en verheffend, en gelowiges moet verstaan dat selfs al is hulle arm, hulle skoon van liggaam en huis kan wees. In hierdie opsig wag ware sendingwerk om gedoen te word vir diegene wat geen begrip het van wat dit is om rein en sindelik van persoon en klere te wees nie. Die armes kan geleer word om hierdie werk self te onderneem. Leer hulle dat diegene wat God dien en Sy gebooie onderhou, hul siele rein en skoon moet hou, en dat hierdie reinheid ook hul kleredrag, hul huise, hulle kombuisgerei en hul vloere insluit omdat die dienende engele uit die hemelse howe elke blyk moet hê dat die kosbare waarheid wat in die hart ontvang is, ‘n onmiskenbare hervorming in die lewe meegebring het.GSA 78.2

    Die Woord sê: “Die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” God het spesiaal opgedrag aan Moses gegee aangaande die kinders van Israel dat daar niks leliks of onsindeliks in die omgewing van hul wonings moet wees nie, sodat Hy nie verbygaan en hul onsindelikheid sien en aanstoot neem en weier om met hulle saam uit te gaan en hulle te help in hul stryd teen die vyand nie.GSA 78.3

    Die hemelse leërs moet die helpers wees van almal wat die werk van God doen, en diegene wat beweer dat hulle kinders van God is en Sy gebooie onderhou, moet aan die wêreld getuig dat die waarheid ‘n hervorming in hul harte teweeggebring het en die siel gereinig en die idees en smaak veredel het. Hulle moet toon dat hulle gewillig is om te leer, gewillig om Moses se raad aan te neem, wie se opdragte van die Here kom. Die woorde wat teenoor die kinders van Israel gebesig is aangaande sindelikheid, word gerig aan almal wat onnette gewoontes het. Hulle word beveel om hulle te reinig van alle besoedeling van die vlees en van die gees, om heiligheid in die vrees van die Here te vervolmaak. Die oë van die Here kan geen onsindelikheid van enige aard by enige gesin goedkeurend gadeslaan nie.GSA 78.4

    Die priesters wat voor die Here in die tempel gedien het, moes hul skoene verwyder voordat hulle binnegegaan het, sodat daar nie stof ingedra kon word nie. Hulle moes hul voete was voordat hulle God genader het. So nougeset moes hulle van persoon wees dat hulle nie met trappe na die altaar moes opstyg sodat deel van die persoon dalk ontbloot kon word nie. Aan al hierdie dinge moes die grootste sorg bestee word.GSA 79.1

    Onderrig, onderrig, onderrig. Ouers wat die waarheid ontvang, moet hulle gewoontes en gebruike aanpas by die voorskrifte wat die Here gegee het. Die Here verlang dat almal moet onthou dat die diens van God ‘n rein en heilige diens is, en dat diegene wat die waarheid aanneem, gereinig moet word van geaardheid, van temperament, van hart, van gesprek, van kleredrag en in die huis, sodat die engele van God, wat vir hulle onsigbaar is, sal kan inkom om diegene te bedien wat erfgename van die verlossing sal wees.GSA 79.2

    Almal wat hulle by die kerk aansluit, moet ‘n vernuwing van karakter aan die dag lê wat hul ontsag vir heilige dinge sal bewys. Hul hele lewe moet volgens die veredeling van Christus Jesus hervorm word. Diegene wat hulle by die kerk voeg, moet nederig genoeg wees om voorgelig te word op punte waarin hulle te kort skiet, en waarin hulle kan en moet verander. Hulle moet'n Christelike invloed uitoefen. Diegene wat geen verandering aanbring in woorde en gedrag nie, in hul kleredrag of in hul huise nie, lewe vir hulleself en nie vir Christus nie. Hulle is nie nuut geskape in Christus Jesus tot reiniging van die hart en die uiterlike omgewing nie.GSA 79.3

    Christene sal geoordeel word aan die vrugte wat hulle dra in hervormingswerk. Elke ware Christen sal toon wat die waarheid van die evangelie vir hom gedoen het. Hy wat'n seun van God gemaak is, moet net en rein gewoontes aan die dag lê. Elke daad, hoe gering ook al, het sy invloed. Die Here verlang om elke mens ‘n werktuig te maak deur wie Christus Sy Heilige Gees kan openbaar. Christene moet in geen enkele geval agtelosig of traak-my-nie-agtig in verband met hul uiterlike voorkoms wees nie. Hulle moet skoon en netjies wees, hoewel sonder om hulle op te smuk. Hulle moet van binne en buite rein wees.GSA 79.4

    Ons moet soos Christus se eiendom handel, Sy seuns en dogters. Aan almal wat Hom aanneem, gee Hy mag om Sy seuns en dogters te word, aan hulle wat in Sy Naam glo. Hulle is dan nuutgebore siele, oorgeneem in die koninkryk van God. “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon - en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom - vol van genade en waarheid.” Die krag van God moet werksaam wees in die karakter van elkeen wat weer gebore is. Ons is God se eiendom, en Hy verlang dat elkeen ‘n medewerker van Hom moet wees. Niemand het enigiets behalwe wat God hom gee nie. Al wat hy het, sy tyd, sy bekwaamheid, sy krag, wat God hom in bewaring gegee het, is teen ‘n prys gekoop. ‘n Losprys is betaal wat elke seun en dogter van Adam insluit, Die kosbare bloed van Christus is gegee om die mens van sy aardsheid, sy sinlikheid, van alle geestelike en liggaamlike onreinheid te verlos. Dit is die verbond wat God met Sy volk gemaak het. Hulle moet Sy uitverkorenes wees. ... Diegene wat Christus waarlik ontvang, sal aan geen ander eis toegee - nie vir ‘n oomblik nie - wat die magte wat vyandig teenoor geregtigheid en waarheid staan, sal versterk nie. Hulle neem die juk van Christus op hulle, en wy hulle onvoorwaardelik aan Christus vir alle tye. Hulle het hulle verbind om die gebod van God te gehoorsaam, selfs al sou elke ander mens op aarde weier om gehoorsaam te wees en dus ontrou word.GSA 79.5

    Hy wat Christus deur die geloof ontvang, is ‘n lid van die koninklike gesin, ‘n kind van die hemelse Koning, ‘n erfgenaam van God en medeerfgenaam van Jesus Christus. Sy lot is ‘n deel van die kruis van Christus. Hy is lewenslank met Christus verenig, vir lewe en dood in die groot verlossingsplan. Die voile en volkome selfverloëning wat in Christus geheers het, heers ook in hom wat aan die diens van Christus gewy word. Hy lê ‘n tederheid soos Christus aan die dag deur vriendelike, sagte woorde te praat, woorde vol troos en hoop en liefde. Hy is vol naamlose sorg vir mensesiele. Hy kan sê: “Ek leef, nogtans nie ek nie, maar Christus leef in my.” Hy is gewillig om enige opoffering te maak om verloregaande siele na die kruis van Christus te trek.GSA 80.1

    Onthou dat daar by God geen klas of nasionaliteit is nie, geen verdeling of partye nie. Die waarheid plaas nooit sy teer voete op ‘n pad van onreinheid of besoedeling nie. Die waarheid trek mense nie na omlaag nie, maar hef hulle op na omhoog. Die waarheid maak ‘n mens nooit grof of ru of onbeskof nie. Dit neem mense in al hulle sonde en vulgariteit, skei hulle af van die wêreld, verfyn hul smake, selfs al is hulle arm en onopgevoed. Onder die dissipline van Christus is daar ‘n gedurige veredeling aan die gang wat hulle deur die waarheid heilig. As hulle in die versoeking kom om ‘n enkele greintjie invloed uit te oefen wat sal weglei van Christus af na die wêreld, in hoogmoed, in mode, in vertoon, spreek hulle woorde van verset wat die vyand se mag sal afwend. “Ek behoort nie aan myself nie,” sê hulle, “ek is duur gekoop. Ek is ‘n seun, ‘n dogter van God. Dit is vir my onmoontlik om God meer te gee as waarop Hy aanspraak maak. Alles is Syne, deur skepping en verlossing. Christus het my hele wese gekoop, die hele gees, siel, krag en liggaam, en ek moet in my woorde, my gedrag, my handelinge, ‘n begrip van my verpligtinge teenoor God uitdruk. Ek behoort geheel en al aan Hom. My lewe is met Christus in God verborge, en wanneer Hy wat my lewe is, sal verskyn, dan sal ek saam met Hom in heerlikheid verskyn.',GSA 80.2

    Hierdie houding moet elke uur van die Christelike belewenis ingeneem en gehandhaaf word. Christus se invloed moet in ons wêreld deur Sy gelowige kinders gevoel word. Hy wat bekeer is, moet dieselfde soort invloed uitoefen wat deur God se bemiddeling tot sy bekering gelei het. Al ons werk in hierdie wêreld moet in eensgesindheid en liefde en eendrag geskied. Ons moet die voorbeeld van Christus altyd voor oë hou en in Sy spore wandel. Eendrag maak mag, en die Here verlang dat hierdie waarheid altyd onder die lede van die liggaam van Christus geopenbaar sal word. Almal moet in liefde, in sagmoedigheid, in nederigheid van hart verenig wees. Hulle moet, georganiseer in ‘n genootskap van gelowiges, met die doel om hul invloed te verenig en te versprei, werk soos Christus gewerk het. Hulle moet altyd hoflikheid en respek teenoor mekaar betoon. Elke talent het sy plek, en moet onder die beheer van die Heilige Gees gehou word.GSA 81.1

    Die kerk is’n Christelike genootskap wat gestig is ter wille van die lede waaruit hy bestaan, sodat elke lid die hulp van al die grasieë en talente van die ander lede en die inwerking van God op hulle kan geniet, volgens hul onderskeie bekwaamhede. Die kerk is verenig in die heilige bande van gemeenskap sodat elke lid kan baat by die invloed van die ander. Almal moet hulle aan die verbond van liefde en eensgesindheid verbind. Die Christelike beginsels en grasieë van die hele gemeenskap van gelowiges moet deur middel van eendragtige optrede in krag toeneem. Elke gelowige moet baat vind en verbeter word deur die veredelende en vernuwende invloed van die verskillende vermoëns van die ander lede, sodat wat by die een ontbreek, oorvloediger by die ander geopenbaar kan word. Al die lede moet saam trek, sodat die kerk ‘n skouspel vir die wêreld, vir engele en vir mense kan word.GSA 81.2

    Die verbondsvoorwaardes in kerklidmaatskap is dat elke lid in die spore van Christus sal volg, dat almal Sy juk op hulle sal neem en sal leer van Hom wat sagmoedig en nederig van hart is. Doen dit, verklaar die dierbare Heiland, “en julle sal rus vind vir julle siele. Want my juk is sag en my las is lig.” Diegene wat die juk van Jesus dra, sal saam trek. Hulle sal meegevoel en verdraagsaamheId aankweek en in heilige wedywering daarna streef om ander die tere simpatie en liefde te betoon waaraan hulle self so ‘n groot behoefte het. Hy wat swak en onervare is, kan, ondanks sy swakheid, versterk word deur diegene wat hoopvoller is en wat ‘n ryper ervaring het. Al is hy die geringste van almal, is hy'n steen wat moet glinster in die gebou. Hy is ‘n lewensbelangrike lid van die georganiseerde liggaam, verenig met Christus, die lewende Hoof, en deur Christus verenig met al die uitnemendheid van Christus se karakter, sodat die Heilland Hom nie skaam om hom ‘n broeder te noem nie.GSA 82.1

    Waarom word gelowiges in ‘n kerk verenig? Omdat Christus deur middel daarvan hul nuttigheid in die wêreld wil vermeerder en hul persoonlike invloed ten goede wil verhoog. ‘n Dissipline moet in die kerk gehandhaaf word wat oor die regte van almal waak en die besef van onderlinge afhanklikheid verhoog. Dit was nooit die doel van God dat een man se siening en oordeel moet oorheers nie. Hy het nooit beoog dat een mens moet heers en beplan en organiseer sonder die sorgvuldige en biddende oorweging van die hele liggaam nie, sodat almal op ‘n gesonde, deeglike, eendragtige wyse kan saambeweeg.GSA 82.2

    Gelowiges moet soos ligte in die wêreld skyn.'n Stad wat op'n heuwel geleë is, kan nie weggesteek word nie.'n Kerk, afsonderlik en onderskeie van die wêreld, is in die aansien van die Hemel die grootste doel op aarde. Die lede is verbind om apart van die wêreld te staan en hulle diens aan een Meester toe te wy, Jesus Christus. Hulle moet toon dat hulle Christus as hul leier gekies het. Die werk in Kaapstad is belangrike werk en die kerk moet wees soos die Here dit bedoel het, ‘n verteenwoordiger van God se gesin in'n ander wêreld.GSA 82.3

    “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is. Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot'n geestelike huis,'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” Daarom staan dit ook in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord:GSA 82.4

    Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling - vir die wat daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is. Maar julle is’n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” Brief 26,1900.GSA 83.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents