Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Getuienisse aan Suider-Afrika - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Brief E (8 Maart 1897)

    “Sunnyside', Cooranbong, N.S.W.

    8 Maart 1897

    As ons maar net kon besef dat die gekruisigde Christus die groot onder-werp van ons geloof is. As Christus bly leef het, sou Hy nie ons Verlosser kon gewees het nie. Ons geloof moet die soenoffer van Sy lewe as ‘n losprys vir die wêreld aanneem. Sy heilige lewe, die deernis, die simpatie wat Hy vir alle menselyding gehad het, sou ons nie gered het as dit daar gebly het nie. Dit was nie totdat Hy, sterwend aan die kruis, gefolterd uitgeroep het:GSA 40.1

    “Dit is volbring,” dat die taak voltooi was nie. Nie totdat Hy afgedaal het in die diepste vernedering, totdat Hy nie verder kon daal nie, was die tirannie van die Satan verbreek nie. Dit was die dood van Christus wat die Goddelike geregtigheid versoen het. Dit is die losprys wat vir ons betaal moes word. Niks ontbreek nou nie behalwe dat die wil van die mens buig, die eie ek gekruisig word en Christus in die hart lewe. Die sieletempel moet aan Hom gewy word.GSA 40.2

    Elke deel van die mens is die Here se eiendom. Ons tyd, ons talente, ons invloed moet aan Hom gewy word. Ons geld word net op trust aan ons geleen om in die diens van God gebruik te word. Dit is nie aan ons gegee om ons eie eer mee te bevorder nie, maar as getroue rentmeesters moet ons altyd die eer en heerlikheid van God voor oë hou. Die Here vereis die hele hart, die onverdeelde liefde. Ons moet niks van Hom terughou nie, want alles is Sy gekoopte besitting.GSA 40.3

    Daar kan nie van die standaard van die Woord van God afgewyk word sonder om te sondig nie. Die grondbeginsels van heiligheid moet nog geleer word deur die een vir wie die wil van God nie eerste kom nie.GSA 40.4

    Daar is geen hawe van rus of veiligheid of regverdigmaking in die oortreding van die wet van God nie. Hy vereis niks minder as absolute oorgawe aan Hom nie ...GSA 41.1

    My hart bloei vir diegene wat hulle in die laaste tonele van die aarde se geskiedenis bevind en tog onbewus is van wat vir hulle voorlê. ‘n Ontsaglike hervorming sou oor die wêreld kom as die gordyn van die toekoms gelig kon word en almal kon sien en besef dat daar binnekort ‘n verandering in die houding van God in Sy handelinge met die verdorwenheid van die mens gaan kom.GSA 41.2

    As God in Sy raadsbesluite in die hemel sou besluit het om die oortreder van Sy positiewe gebooie met die oombliklike dood te besoek, sou dit tot veel groter versigtigheid en selfbeheersing gelei het in die neiging tot die dinge wat vir God ‘n gruwel is. Juis die manne wat dood skyn te wees vir die smekinge en waarskuwinge wat genadiglik deur God gestuur word, diegene wat hulle nie sal laat afsien van hul bose weg nie, sou verstandig genoeg wees om hul lewens te behou, selfs al het hulle God nie liefgehad nie.GSA 41.3

    Maar die Here se besluit, wat in oorleg met Sy eniggebore Seun gemaak is, was om die mens ‘n vrye morele keuse te laat vir die duur van ‘n sekere tydperk van genade. Sy oog sou al hulle werke betrag, maar Hy sou niemand dwing om Hom te dien nie. As die liefde wat Hy in Sy lankmoedigheid en geduld beoefen, hulle nie tot bekering en algehele oorgawe aan die wette van Sy koninkryk sou lei nie, sou hulle toegelaat word om te kies wie hulle wil dien. Hulle lewe moet van hulle keuse getuig. As hulle die sonde liefhet en verkies om Sy wette te veronagsaam na voldoende toetse en beproewinge, is hul gevalle vir ewig beslis. God kan sulke mense nie as Sy gesin in die hemel toelaat nie. Hulle straf sal ooreenkomstig die verergerende aard van hul verset en rebellie teen God wees. In Sy lankmoedigheid sal God die mens elke moontlike geleentheid gee om hom te bekeer en hom na Christus te wend as sy enigste hoop.GSA 41.4

    As gevolg van die goedheid en lankmoedigheid van God het baie sover gekom om Sy genade en goedertierenheid te oorpeins en te waardeer, en dit het hulle tot bekering gelei, maar aan die ander kant het ander onverskillig geword en Sy genade misbruik. Tot hul ewige verlies en skande het hulle die gees en wil van die Satan gevolg ongeag die toekomstige vergelding wat gewis oor hulle sal kom vir hulle ongehoorsaamheid en oortredinge. Hulle sal nog leer dat God gesteld is op Sy eer en Sy heerlik- heid. Hy sal nie duld dat daar met Sy wette gespeel word nie; Hy sal nie toelaat dat die mens hulle onverskillig bejeën en trotseer sonder om hulle dienooreenkomstiglik te straf nie.GSA 41.5

    “Omdat die oordeel oor die verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen.” Die middele wat die Here in Sy genadige voorsiening aangewend het om die voorwerpe van Sy liefde te versag en onderdanig te maak, het, deur die werking van die Satan, die verdorwe en verharde harte aangemoedig in hul verdorwenheid, weerstand en oortreding, sodat dit Dawid selfs in sy dag laat uitroep het: “Dit is tyd vir die Here om te handel: hulle het u wet verbreek. Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.”GSA 42.1

    O, dat almal maar net wil besef voordat dit vir ewig te laat is dat daar perke aan die genade en verdraagsaamheid van God is! Daar is diegene wat deur hulle onboetvaardigheid onder die lig wat op hulle gestraal het, baie na aan die perk is waar die verdraagsaamheid van God uitgeput raak. In hart en gees sê hulle:GSA 42.2

    “My heer talm om te kom” en hulle eet en drink saam met die dronkaards. Maar God sê van diesulkes, “dan oorval ‘n skielike verderf hulle... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”GSA 42.3

    Nou, wanneer groot lig uit die Woord van God straal en duistere verborgenhede so duidelik soos daglig maak, is die dag van genade, van hoop, van blydskap en versekering vir almal wat dit sal benut, vir almal wat die hart en gees sal oopmaak vir die helder strale van die Son van geregtigheid. Maar daar is ‘n teenoorgestelde klas: diegene wat nie na die Lig wil kom nie, wat die waarheid verag omdat dit dwaling en oortreding en sonde aan die kaak stel, en die gevolg is dat verdorwenheid en vermetelheid in oortreding alom posvat.GSA 42.4

    Daar is ywerige ondersoekers van die profetiese woord in alle dele van die wêreld, wat lig en steeds meer lig verkry uit die ondersoek van die Skrifte. Dit geld vir alle nasies, alle stamme en alle volke. Hulle sal uit die grootste dwaling kom en die plek inneem van diegene wat geleenthede en voorregte gehad het en dit nie gewaardeer het nie. Hierdie mense het hul eie heil met vrees en bewing uitgewerk sodat hulle nie te kort sal skiet om die weë en wil van God te doen nie, terwyl diegene wat groot lig gehad het, deur die verdorwenheid van hul eie natuurlike harte die rug op Christus gedraai het omdat hulle nie genoeë met Sy vereistes geneem het nie. Maar God sal nie sonder getuienis gelaat word nie. Die een-uurarbeiders sal ter elfder ure ingebring word en sal hul vermoë en hul toevertroude middele gebruik om die werk te bevorder. Hulle sal die loon vir hul getrouheid ontvang, omdat hulle beginselgetrou is en nie hul plig sal versuim om die hele wil van God bekend te maak nie. Wanneer diegene wat volop lig gehad het, die tuig afgooi waarmee die Woord van God hulle gebind het en Sy wet tot niet maak, sal ander kom om hul plekke te vul en hul kroon van hulle te neem.GSA 42.5

    Hoewel baie die Woord, die Waarheid, die heilige wet van Jehova tot ‘n dooie letter gemaak het en deur hul voorbeeld getuig dat die wet van Jehova ‘n swaar, veeleisende las is, terwyl hulle sê: Ons sal hierdie juk afgooi; ons wil vry wees, ons wil nie langer in ‘n verbondsverhouding met God verkeer nie; ons wil maak soos ons wil, sal daar manne wees wat baie geringe geleenthede gehad het en wat in dwaalweë gewandel het omdat hulle geen ander of beter weg geken het nie, na wie die ligstrale sal kom. Soos die woord van Christus tot Saggeus gekom het: “Ek moet in jou huis vertoef” so sal die woord tot hulle kom. En die een wat veronderstel was om ‘n geharde sondaar te wees, sal ‘n hart so teer soos ‘n kind s'n blyk te hê, omdat Christus dit goed geag het om hom raak te sien.GSA 43.1

    Groot is die werk van die Here. Die mense is besig om kant te kies. Selfs diegene wat veronderstel is om heidene te wees, sal die kant van Christus kies, terwyl diegene wat aanstoot neem, soos die dissipels, sal weggaan en nie meer saam met Hom sal wandel nie. En ander sal inkom en die plekke volstaan wat ander vakant gelaat het. Die tyd is baie naby wanneer die mens die voorgeskrewe perke bereik het. Hy het nou byna die grense van die lankmoedige God oorskry, die perke van Sy genade. Hulle werke is in die boeke van die hemel opgeteken,“op die weegskaal geweeg en te lig bevind.” Die Here sal ingryp om Sy eie eer te verdedig, om die opwelling van ongeregtigheid en vermetele oortreding te onderdruk.GSA 43.2

    Watter uitwerking sal die poging van die mens om die wet van God tot niet te maak, op die regverdige hê? Sal hulle geïntimideer word deur die universele minagting waarmee die heilige wet van God bejeën word? Sal die ware gelowiges in die “so sê die Here” wankelmoedig en skaam word omdat die hele wêreld Sy heilige wet skyn te minag? Sal hulle weggevoer word deur die oorheersing van die kwaad? Nee; vir diegene wat hulle aan God gewy het om Hom te dien, word die wet van God al kosbaarder wanneer die kontras tussen die gelowige en die oortreder duidelik blyk. Na verhouding tot die mate waarin die karaktertrekke van die Satan ontwikkel word in diegene wat die wet van God verag en oortree, sal die heilige voorskrif vir die getroue volgeling kosbaarder en waardevoller word. Hy sal verklaar: “Hulle het u wet verbreek. Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.” Dit is diegene wat getroue rentmeesters van die genade van God was wie se liefde vir die gebooie van God groei namate diegene om hulle dit met minagting bejeën.GSA 43.3

    Goddelose manne en die kerk is eendragtig in hierdie haat vir die wet van God, en dan breek die krisis aan. Dan sien ons die klas wat beskryf word in Maleagi 3:13-15: “Vermetel is julle woorde teen My, sê die Here. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek? Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die Here van die leërskare te wandel? En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry.” Hier is’ n groepie misnoeë Christene wie se vernaamste taak is om te murmureer en te kla en God te beskuldig deur die kinders van God te beskuldig. Hulle sien geen tekortkoming in hulself nie, maar baie in ander, wat hulle ontevrede maak.GSA 44.1

    Maar terwyl hulle murmureer en kla en valslik beskuldig en die werk van die Satan ywerig uitvoer, word ‘n ander klas ons onder die aandag gebring: “Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos’n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”GSA 44.2

    Hierdie onderwerp dwing hom al in my gedagte op. Ek wil hê jy moet daaroor dink, want dit is ‘n saak van geweldige belang. Met watter van hierdie twee klasse sal ons ons vereenselwig? Ons is nou besig om ons keuse te doen, en ons sal weldra onderskei tussen hom wat God dien en hom wat Hom nie dien nie. Lees die vierde hoofstuk van Maleagi, en dink ernstig daaroor na. Die dag van die Here is ophande. Die wêreld het die kerk bekeer. Albei is een van doel en handel volgens’n kortsigtige beleid. Protestante sal die regeerders van die land oorreed om wette te maak om die verlore verhewenheid te herstel van die mens van sonde wat in die tempel van God as God sit en voorgee dat hy God is. Die RoomsKatolieke beginsels sal onder die beskerming en sorg van die staat geneem word. Hierdie nasionale afval sal spoedig deur nasionale ondergang gevolg word. Die protes van Bybelwaarheid sal nie langer geduld word deur diegene wat nie die wet van God hul lewensreël gemaak het nie. Dan sal die stem uit die graftes van die martelare gehoor word wat voorgestel word deur die siele wat Johannes gesien het, wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus wat hulle bewaar het; dan sal die gebed van elke ware kind van God opgaan: “Dit is tyd vir die Here om te handel: hulle het u wet verbreek.”GSA 44.3

    Toe ons aartsouers hulle verhewe bestaan weens oortreding verbeur het, is God se wet verbreek. Toe het Christus Sy taak as’n Verlosser onderneem en is genade aan die bewoners van die wêreld verleen. In Noag se tyd het die mense die wet van God veronagsaam totdat daar naderhand byna nie meer aan Hom gedink is nie. Hul goddeloosheid het sulke afmetings aangeneem, geweld, misdaad en elke moontlike sonde het so intens aktief geword, dat die Here ‘n watervloed oor die wêreld gebring en die goddelose bewoners daarvan weggevoer het. Maar genade is by die oordeel gemeng. Noag en sy gesin is gered. In die verwoesting van Sodom en Gornorra sien ons dat die Here wel sal ingryp; vuur het uit die hemel neergedaal en daardie goddelose stede vernietig.GSA 45.1

    Van tyd tot tyd het die Here Sy manier van handeling bekend gemaak. Hy is bewus van wat op die aarde aangaan. En wanneer'n krisis aangebreek het, het Hy Homself geopenbaar en ingegryp om die welslae van die Satan se planne te verydel. Hy het dikwels toegelaat dat sake by volke, by gesinne, en by individue tot ‘n krisis ontwikkel, sodat Sy tussentrede kennelik kan word. Dan het Hy die feit bekend laat word dat daar'n God in Israel is wat Sy volk sal onderskraag en verdedig.GSA 45.2

    Wanneer die trotsering van die wet van Jehova byna universeel is, wanneer Sy kinders deur hul medemense verdruk sal word, sal God ingryp. Die vurige gebede van Sy kinders sal verhoor word, want Hy wil graag hê dat Sy kinders Hom met die hele hart moet soek en hulle op Hom moet verlaat as hulle Verlosser. Hy sal gesmeek word om hierdie dinge vir Sy volk te doen, en Hy sal opstaan as die beskermer en wreker van Sy volk. Die belofte is dat die Here Sy uitverkorenes sal wreek wat dag en nag tot Hom roep.GSA 45.3

    Die Protestante owerheid sal ‘n eienaardige toestand bereik. Hulle sal tot die wêreld bekeer word. Hulle sal ook, in hul skeiding van God, trag om valsheid en afvalligheid van God die wet van die volk te maak. Pleks dat diegene wat die lig van die waarheid het, toelaat dat jaloesie en bose vermoedens inkom en hul liefde vir mekaar en hul eensgesindheid verswak, moet hulle verenigde gebede na die hemel opstyg dat die Here sal opstaan en ‘n einde maak aan die geweld en misbruik wat in ons wêreld gepleeg word. Meer bid en minder praat is wat God verlang, en dit sal Sy volk'n sterke toring maak. - Brief 123, 1897.GSA 45.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents