Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Opvoeding - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Verhouding Tussen Kleredrag en Opvoeding

    “MET BEHOORLIKE KLEDING “LOUTER
    HEERLIKHEIDIS DIE KONING SE
    DOGTER DAARBINNE.”

    GEEN OPVOEDING kan volledig wees wat nie die regte beginsels oor kleredrag leer nie. Sonder sodanige onderrig word die werk van opvoeding te dikwels vertraag en verdraai. Liefde vir kleredrag en modesug behoort tot die onderwyser se gedugste mededingers en doeltreffendste hinderpale.Op 246.1

    Die mode is ‘n gebiedster wat met ‘n ysere hand regeer. In so baie huise word die krag en tyd en aandag van ouers en kinders in beslag geneem om aan haar eise te voldoen. Die rykes is naywerig om mekaar te oortref deur aan haar immer wisselende style te voldoen; die middel - en armer stand streef daarna om die standaard by te kom van diegene wat veronderstel is om hul meerderes te wees. Waar middele en krag beperk is en die strewe na deftigheid groot is, word die las byna ondraaglik.Op 246.2

    By baie maak dit nie saak hoe betaamlik, of selfs hoe mooi, ‘n kledingstuk is nie; laat die modes verander en dan moet dit oorgemaak of opsy gewerp word. Die lede van die huisgesin word tot eindelose arbeid gedoem. Daar is geen tyd om die kinders op te voed nie, geen tyd vir gebed of Bybelstudie nie, geen tyd om die kleintjies te help om God deur Sy werke te leer ken nie.Op 246.3

    Daar is geen tyd en geen geld vir liefdadigheid nie. En dikwels word die tafel by die huis afgeskeep. Die voedsel word swak gekies en haastig berei en daar word net gedeeltelik aan die vereistes van die natuur voldoen. Die gevolg is verkeerde diëetgewoontes, wat siekte veroorsaak of tot onmatigheid lei.Op 247.1

    Die liefde vir vertoon bring spandabelheid voort en by baie jongmense maak dit die aspirasies na ‘n edeler lewe dood. In plaas van ‘n opvoeding te probeer kry, begin hulle al vroegtydig met die een of ander werk, sodat hulle geld kan verdien om hul geesdrif vir kleredrag te botvier.Op 247.2

    En deur hierdie drang word menige jong meisie tot haar ondergang verlei.Op 247.3

    In menige huis word die gesinsmiddele oorbelas. Die vader, onbevoeg om aan die eise van die moeder en kinders te voldoen, word tot oneerlikheid versoek en weer eens is skande en ondergang die gevolg.Op 247.4

    Selfs die dag en dienste van aanbidding spring nie die mode se heerskappy vry nie. Dit bied eerder ‘n geleentheid vir die groter openbaring van haar mag. Van die kerk word ‘n paradegrond gemaak en die modes meer as die preek bestudeer. Die armes, wat nie aan die eise van die gebruiklike kan voldoen nie, bly heeltemal van die kerk af weg. Die rusdag word met leeglêery deurgebring en die jeug dikwels in geselskap wat bederf.Op 247.5

    Op skool word die dogters deur onpaslike en ongemaklike klere vir of studie of ontspanning onbevoeg gemaak. Hulle gedagtes is verstrooid en die onderwyser het ‘n moeilike taak om hul belangstelling te wek.Op 247.6

    Om die betowering van die mode te verbreek, kan die onderwyser geen doeltreffender middel vind as kontak met die natuur nie. Laat leerlinge die genot smaak wat by rivier of meer of see te vinde is; laat hulle die randjies klim, die heerlikheid van die sonsondergang aanskou, die skatte van woud en veld ontdek; laat hulle die genot leer om plante en blomme te kweek; en dan sal die belangrikheid van ‘n bykomende lint of valletjie tot niksbeduidendheid versink.Op 247.7

    Laat die jeug sien dat in kleredrag, soos in diëet, die eenvoudige leefwyse onmisbaar vir verhewe denke is. Bring hulle daartoe om in te sien hoeveel geleer en gedoen moet word; hoe kosbaar die dae van die jeug as voorbereiding vir die lewenstaak is. Help hulle om te sien watter skatte daar in die Woord van God, in die boek van die natuur en in die verslae van edele lewens is.Op 248.1

    Laat hulle gedagtes gevestig word op die lyding wat hulle kan verlig. Help hulle om te besef dat die besteder deur eike rand wat op vertoonsug verkwis word, die middele ontneem word om die hongeriges te voed, die naaktes te klee en die bedroefdes te vertroos.Op 248.2

    Hulle kan nie bekostig om die lewe se heerlike geleenthede mis te loop, hul verstande te verdwerg, hul gesondheid te ruineer en hul geluk te laat skipbreuk ly en dit ter wille van gehoorsaamheid aan die bevele wat geen grondslag in dierede, gerief of bevalligheid het nie.Op 248.3

    Terselfdertyd moet die jeug geleer word om die les van die natuur te erken: “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd.” Prediker 3:11. Deur kleredrag, soos met alle ander dinge, is dit ons voorreg om ons Skepper te vereer. Hy verlang dat ons klere nie slegs netjies en gesond sal wees nie, maat geskik en betaamlik.Op 248.4

    'n Mens se karakter word aan die styl van sy kleredrag geoordeel. ‘n Verfynde smaak, ‘n gekultiveerde verstand, sal in die keuse van eenvoudige en paslike klere geopenbaar word. Kuise eenvoud in kleredrag, sal, wanneer dit met ‘n beskeie houding gepaard gaan, baie daartoe bydra om ‘n jong dame te omring met daardie atmosfeer van heilige ingetoënheid wat vir haar ‘n skild teen ‘n duisend gevare sal wees.Op 248.5

    Laat dogters geleer word dat die kuns om goed aan te trek die vermoë insluit om hul eie klere te maak. Dit is ‘n ambisie wat elke dogter behoort te koester. Dit sal ‘n middel tot bruikbaarheid en selfstandigheid wees wat sy nie kan bekostig om mis te loop nie.Op 249.1

    Dit is reg om die skoonheid lief te hê en te begeer; maar God verlang dat ons eers die mees verhewe skoonheid moet liefhê en soek - dié wat onverganklik is. Die keurigste voortbrengsels van die menslike vernuf besit geen skoonheid wat vergelyk kan word met daardie karaktersieraad wat in Sy oë “baie kosbaar”is nie.Op 249.2

    Laat die jeug en klein kindertjies geleer word om vir hulle daardie koninklike kleed te kies wat op die weefstoel van die hemel geweef is - ‘'rein en blink fyn linne” (Openbaring 19:8), wat al die heiliges van die aarde sal dra. Dié kleed, Christus se eie vlekkelose karakter, word vrylik aan elke mens gebied. Maar almal wat dit ontvang, sal dit hier ontvang en dra.Op 249.3

    Laat die kinders geleer word dat soos hulle hul verstande vir rein, liefdevolle gedagtes oopstel en liefdevolle en hulpvaardige dade verrig, hulle Sy pragtige karakterkleed aantrek. Hierdie drag sal hulle hier lieflik en bemind maak en in die hiernamaals hul toegangskaart tot die paleis van die Koning wees. Sy belofte is:Op 249.4

    “Hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.” Openbaring 3:4. Op 249.5

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents