Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Voorwaarts - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 8 - Die Fees in Simon se Huis

    Simon van Betanié is as ‘n dissipel van Jesus beskou. Hy was een van die min Fariseërs wat hom openlik onder Christus se volgelinge geskaar het. Hy het Jesus as ‘n leraar erken, het gehoop dat Hy dalk die Messias sou wees, maar het Hom nie as Verlosser aangeneem nie. Sy karakter was nie vemuwe nie; sy beginsels was onveranderd.GF 40.1

    Simon is van melaatsheid genees, en dit is wat hom na Jesus getrek het. Hy wou sy dank betoon, en met Christus se laaste besoek aan Betanié het hy ‘n maaltyd vir die Heiland en Sy dissipels klaargemaak. Baie Jode het dit bygewoon. Dit was ‘n tyd van opwinding in Jerusalem. Christus en Sy sending het groter aandag as ooit geniet. Die gaste het Sy bewegings noukeurig dopgehou - party van hulle met onvriendelike oë.GF 40.2

    Die Heiland het net ses dae voor die Pasga in Jerusalem aangekom, en oudergewoonte het Hy in die huis van Lasarus gaan rus. Die skares wat na die stad voortgereis het, het dit bekend gemaak dat Hy op pad na Jerusalem was, en dat Hy die Sabbat in Betanië sou rus. Groot geesdrif het onder die volk geheers. Baie het na Betanië gestroom - party uit opregte belangstelling in Jesus, andere uit nuuskierigheid om hom te sien wat uit die dode opgewek was.GF 40.3

    Baie het verwag dat Lasarus hulle ‘n wonderlike beskrywing van die tonele na sy dood sou kon gee. Hulle was verbaas dat hy hulle niks vertel het nie. Hy het niks van hierdie aard te vertelle gehad nie. Die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie... Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn” (Prediker 9:5,6). Maar Lasarus het ‘n indrukwekkende getuienis te lewer gehad in verband met die werk van Christus. Om hierdie doel is hy uit die dode opgewek. Met krag en oortuiging het hy verklaar dat Jesus die Seun van God is.GF 40.4

    Verslae wat deur besoekers aan Betanië na Jerusalem teruggeneem is het die opwinding verhoog. Die volk was gretig om Jesus te sien en te hoor. Almal wou weet of Lasarus Hom na Jerusalem sou vergesel, en of die profeet op die Paasfees tot koning gekroon sou word. Die priesters en owerstes het besef dat hul houvas op die volk steeds verswak, en dit het hulle verder teen Jesus verbitter. Hulle kon skaars wag op ‘n geleentheid om Hom vir goed van die toneel te verwyder. Met verloop van tyd het hulle begin vrees dat Hy dalk glad nie na Jerusalem sou kom nie. Hulle het onthou hoe dikwels Hy hul moordplanne verydel het, en hulle het begin vrees dat Hy teen nou deur hul planne gesien het en daarom sou wegbly. Hulle kon skaars hul angs verberg en het mekaar gevra:“Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?”GF 40.5

    “n Vergadering van die priesters en Fariseërs is belê. Na die opwekking van Lasarus het die volk hulle so volkome aan die kant van Christus geskaar dat dit gevaarlik sou wees om Hom openlik te gryp. Die owerhede het dus besluit om Hom heimlik te arresteer en die verhoor so stil moontlik af te handel. Hulle het gehoop dat as dit bekend sou word dat Hy veroordeel is, die wispelturige openbare mening in hulle guns sou swaai.GF 41.1

    Hulle wou Jesus so uit die weg ruim. Maar solank Lasarus geleef het, wis die priesters en rabbi’s dat hulle nie veilig was nie. Net die bestaan van ‘n man wat vier dae in die graf was en wat deur ‘n woord van Jesus opgewek is, sou vroeër of later ‘n reaksie uitlok. Die volk sou hulle op hul leiers wreek omdat hulle Een gedood het wat so ‘n wonderwerk kon verrig. Daarom het die Joodse raad besluit dat Lasarus ook moet sterf. Dit is die uiterstes waartoe jaloesie en vooroordeel hul slawe kan dryf. Die haat en ongeloof van die Joodse leiers moes toeneem totdat hulle selfs die lewe sou neem van een wat deur die Almag uit die graf gered is.GF 41.2

    Terwyl hierdie sameswering in Jerusalem aan die gang was, is Jesus en Sy vriende na die maaltyd van Simon genooi. Die Heiland het aan tafel gesit met Simon, wat Hy van ‘n afskuwelike siekte genees het, aan Sy een kant, en Lasarus, wat Hy uit die dode opgewek het, aan die ander. Martha het die gaste bedien, maar Maria het ernstig geluister na elke woord wat Jesus gebesig het. In Sy genade het Jesus haar sondes vergewe, Hy het haar geliefde broer uit die graf uit teruggeroep, en Maria se hart het oorgeloop van dankbaarheid. Sy het Jesus hoor praat van Sy naderende dood, en in haar innige liefde en leed wou sy Hom graag vereer.Teen groot persoonlike opoffering het sy ‘n albastefles “kosbare nardussalf” gekoop om Sy liggaam mee te salf. Maar noudat baie begin sê het dat Hy op die punt was om tot koning gekroon te word, het haar droefheid in vreugde verander. Sy wou graag die eerste wees om haar Here te vereer. Toe breek sy die fles salf, giet die inhoud op die hoof en voete van Jesus uit; en terwyl sy wenend kniel, maak sy hulle met haar trane nat en droog Sy voete af met haar lang, los hare.GF 41.3

    Sy het dit ongemerk probeer doen, en haar daad kon wel ongemerk verbygegaan het, was dit nie dat die geur van die salf die hele vertrek gevul het en almal se aandag op haar gevestig het nie. Judas het die daad met misnoeë beskou. Pleks van te wag om te hoor wat Jesus daaroor te sê het, het hy sy ontevredenheid in fluistertone teenoor diegene om hom uitgespreek en Christus dit verwyt omdat Hy sulke verkwisting toelaat. Listig het hy dinge geïnsinueer wat ontevredenheid kon veroorsaak.GF 41.4

    Judas was die dissipels se penningmeester, en van die bietjie geld wat hulle gehad het, het hy heimlik vir sy eie gebruik aangewend, wat weinig vir hulle in die beursie oorgelaat het. Hy was gretig om alles wat hy in die hande kon kry, in die beurs te sit. Geld is dikwels uit die beurs gehaal om die armes te help; en as iets gekoop is wat deur Judas as oorbodig beskou is, het hy gewoonlik gesê: Waarom die verkwisting? Hoekom is die geld daarvoor nie in die beurs gesit wat ek vir die armes dra nie? Maria se daad het so helder afgesteek teen sy selfsug dat hy in die skande gesteek is; daarom moes hy, oudergewoonte, ‘n waardige motief vir sy beswaar teen die geskenk voorhou. Hy het hom tot die dissipels gewend en gevra: “Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennings verkoop en die geld, aan die armes gegee nie? En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het.” Judas het geen medelye met die armes gehad nie. As Maria se salf verkoop was en die geld, in sy hande beland het, sou die armes geen baat daarby gevind het nie.GF 42.1

    Judas was baie beïndruk deur sy eie bestuursvemuf, Hy het gevoel dat hy ‘n baie beter finansier as sy mededissipels is, en hy het ook gesorg dat hulle hom in daardie lig beskou. Hy het hul vertroue gewin en ‘n sterk invloed oor hulle uitgeoefen. Sy geveinsde meegevoel vir die armes het hulle om die bos gelei, en sy listige insinuasie het hulle ook wantrouig teenoor Maria se wydingsdaad gestem. Rondom die tafel is gemompel:GF 42.2

    “Waarvoor is hierdie verkwisting? Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee gewees het.”GF 42.3

    Maria het die kritiek gehoor. Sy het innerlik gebewe. Sy was bang haar suster sou haar haar spandabelheid verwyt. Dalk dink die Meester ook dat sy verkwistend is. Sy was op die punt om sonder verskoning weg te sluip, toe die stem van haar Meester gehoor word:“Laat haar staan, waarom val julle haar lastig?” Hy het gesien dat sy verleë en ongelukkig voel. Hy wis dat sy met hierdie daad haar dankbaarheid vir die vergifnis van haar sondes betoon het, en Hy het haar gerusgestel. Toe verhef Hy Sy stem bo die gemompel van kritiek en sê:“Sy het ‘n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd byjulle, en wanneer julle wil, kan julleaan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf.”GF 42.4

    Die geurige gawe wat Maria op die dooie liggaam van die Heiland wou uitgiet, het sy nou op Sy lewende liggaam gestort. By die begrafnis sou die soete geur maar net die graf gevul het; nou het dit Sy hart verbly met die versekering van haar geloof en liefde. Josef van Arimathea en Nikodemus het nie hul liefdegawes aan Jesus gebied toe Hy nog gelewe het nie. Met bittere trane het hulle hul kosbare speserye vir Sy koue, bewustelose liggaam gebring. Die vroue wat hul speserye na die graf gebring het, het dit tevergeefs gedoen, want Hy het opgestaan: Maar Maria het haar liefde op die Heiland uitgestort terwyl Hy nog bewus was van haar toewyding, en sy het Hom vir die begrafnis gesalf. En toe Hy deur die duistemis van Sy groot beproewing gegaan het, het Hy saam met Hom die gedagtenis van hierdie daad geneem - ‘n voorsmaak van die liefde wat Hy vir ewig van Sy verlostes sou ontvang.GF 43.1

    Baie bring hul kosbare gawes vir die dode. Hulle staan om die koue, lewelose liggaam, en liefdeswoorde vloei vrylik. Teerheid, waardering, toegewydheid, alles word op die een uitgestort wat nie kan sien of hoor nie. As hierdie woorde gespreek was toe die vermoeide gees hulle so nodig gehad het, toe die oor kon hoor en die hart kon voel, hoe kosbaar sou hul geur nie gewees het nie!GF 43.2

    Maria het die volle betekenis van haar liefdedaad nie besef nie. Sy kon haar beskuldigers nie antwoord nie. Sy kon nie verduidelik waarom sy hierdie geleentheid gekies het om Jesus te salf nie. Die Heilige Gees het haar gelei, en sy het Hom gehoorsaam. Die ingewing verwerdig hom nie om redes te gee nie. ‘n Ongesiene teenwoordigheid spreek tot die siel en gees en spoor die hart tot dade aan. Dit het sy eie regverdiging.GF 43.3

    Christus het Maria die betekenis van haar daad meegedeel, en hierin het Hy haar meer gegee as wat Hy ontvang het. “Toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het,” het Hy gesê, “het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis.” Soos die albastefles gebreek is en die hele huis met sy geur gevul het, so sou die Christus sterf en Sy liggaam gebreek word; maar Hy sou uit die graf uit opstaan en die geur van Sy lewe sou die aarde vul. Christus het ons liefgehad en Hom vir ons oorgegee “as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur” (Efesiërs 5:2).GF 43.4

    “Voorwaar Ek sê vir julle,” het Christus gesê, “oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ‘n gedagtenis aan haar.” In ‘n toekomsblik het die Heiland met oortuiging van Sy evangelie gepraat. Dit sou deur die hele wêreld verkondig word. En sover as wat die evangelie sou reik, sou Maria se geskenk sy geur versprei en sou harte deur haar spontane daad geseën word. Koninkryke sou opkom en val; die name van vorste en veroweraars sou vergeet word, maar hierdie vrou se daad sou onsterflik op die bladsye van die gewyde geskiedenis bly pryk. Tot die einde van die tyd sou die gebreekte albastefles die verhaal van God se oorvloedige liefde vir die gevalle mensdom vertel.GF 43.5

    Maria se daad het sterk afgesteek by wat Judas op die punt was om te doen. Watter strawwe les kon Christus nie aan hom gegee het wat die saad van kritiek en bose gedagtes by die dissipels gesaai het nie! Hoe tereg kon die beskuldiger beskuldig geword het! Hy wat die motiewe van elke hart kan lees en elke optrede verstaan, sou daar voor die feesgangers donkere hoofstukke in die lewe van Judas kon blootgelê het. Die geveinsdheid waarop die verraaier sy kritiek gebaseer het, kon aan die kaak gestel gewees het; want, pleks van hom oor die armes te ontferm, het hy hulle beroof vandie geld wat vir hulle bedoel was. Verontwaardiging kon uitgelok gewees het oor sy onderdrukking van die weduwees, die wese en die dagloners. Maar as Christus Judas ontmasker het, sou dit as oorsaak vir die verraad aangegee geword het. En al is hy ‘n dief genoem, sou Judas simpatie ontvang het, selfs onder die dissipels. Die Heiland het hom nie verwyt nie en het so enige verskoning vir sy verraad vermy.GF 44.1

    Maar Jesus se deurdringende blik op hom het Judas oortuig dat die Heiland dwarsdeur sy huigelary gesien het en sy snode, veragtelike karakter gelees het. En in Sy lof vir Maria, wie se daad so hewig veroordeel is, het Christus Judas bestraf. Voorheen het die Heiland hom nooit regstreeks bestraf nie. Nou het die bestraffing hom verbitter. Hy was vasberade om hom te wreek. Van die feestafel af het hy opgestaan en reguit na die paleis van die hoëpriester gegaan, waar hy die raad byeen gevind het en aangebied het om Jesus aan hulle uit te lewer.GF 44.2

    Die priesters was verheug. Hierdie leiers van Israel het die voorreg gehad om Christus as hul Verlosser te ontvang, sonder geld en sonder prys. Maar hulle het die kosbare gawe wat hulle in die grootste teerheid en liefde aangebied is, geweier. Hulle het geweier om die verlossing wat kosbaarder as goud is, aan te neem, en het hul Here vir dertig silwerstukke gekoop.GF 44.3

    Judas het sy hebsug laat botvier totdat dit elke goeie trek in sy karakter. oorweldig het. Hy het die offergawe nie aan Jesus gegun nie. Hy het gebrand van jaloesie dat die Heiland ‘n geskenk sou ontvang wat vir aardse konings geskik is. Hy het sy Here vir ‘n veel kleiner bedrag verkoop as wat die salfgekos het.GF 45.1

    Die dissipels was nie soos Judas nie. Hulle het die Heiland liefgehad. Maar hulle het Sy verhewe karakter nie reg gewaardeer nie. As hulle besef het wat Hy vir hulle gedoen het, sou hulle gevoel het dat niks wat aan Hom gegee word, verkwis is nie. Die wyse manne uit die Ooste, wat so min van Jesus geweet het, het beter besef watter eer Hom toekom; hulle het kosbare geskenke aan die Heiland gebring en in hulde voor Hom neergebuig toe Hy nog ‘n baba was en ‘n krip as wieg gehad het.GF 45.2

    Christus waardeer opregte vriendskapsdade. As iemand Hom ‘n guns bewys het, het Hy die dader met hemelse hoflikheid geseën. Hy het nie die eenvoudigste blom wat deur die hand van ‘n kind gepluk is en aan Hom in liefde aangebied is, geweier nie. Hy het die gawes van kinders aangeneem en die gewers geseën en hul name in die boek van die lewe geskryf. In die Bybel word Maria se salwing van Jesus gebruik om haar van die ander Marias te onderskei. Liefde en respek wat aan Jesus betoon word, is bewys van geloof in Hom as die Seun van God. En die Heilige Gees noem, as bewyse van ‘n vrou se getrouheid aan Christus:“As sy... die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het” (Timotheus 5:10).GF 45.3

    Christus het Hom verheug in Maria se verlange om die wil van haar Here te doen. Hy het die rykdom van suiwere liefde wat Sy dissipels maar nie kon verstaan Meester nie, aangeneem, Maria se drang om haar hierdie diens te bewys was vir Christus van meer waarde as al die kosbare salf ter wêreld, want dit het uitdrukking gegee aan haar waardering van die wêreld se Verlosser. Dit was die liefde van Christus wat haar gedring het. Die weergalose uitnemendheid van die karakter van Christus hef haar wese vervul. Die salf was ‘n simbool van die hart van die geefster. Dit was die uiterlike vertoning van ‘n liefde wat deur hemelse strome gevoed is totdat dit oorgeloop het.GF 45.4

    Maria se daad was net die les wat die dissipels nodig gehad het om hulle te toon dat Christus die uitdrukking van hul liefde vir Hom sal waardeer. Hy was alles vir hulle, en hulle het nie besef dat hulle weldra nie meer Sy teenwoordigheid sou geniet nie, dat hulle Hom weldra geen gebaar sou kon toon wat hul dankbaarheid vir Sy groot liefde sou te kenne gee nie. Christus se eensaamheid, afgesonder van, die hemelse howe en in die rol van ‘n mens, is nooit behoorlik deur die dissipels besef nie. Hy was dikwels bedroef omdat Sy dissipels Hom nie gegee het wat Hom toegekom het nie, Hy wis dat as hulle onder die invloed van die hemelse engele was wat Hom vergesel het, ook hulle geen offer groot genoeg sou geag het om die geestelike liefde van die hart uit te druk nie.GF 45.5

    Eers toe Jesus weg is, het hulle waarlik besef wat hulle alles vir Hom kon gedoen het om hul liefde en dankbaarheid te betuig toe Hy nog by hulle was. Toe Jesus nie langer by hulle was nie en hulle soos skape sonder ‘n herder gevoel het, het hulle begin insien hoe hulle gunsies vir Hom kon gedoen het wat Hom bly sou gemaak het. Toe het hulle Maria nie meer verwyt nie, maar hulleself. As hulle maar net hul kritiek kon terugtrek en die indruk ongedaan kon maak dat hulle die armes waardiger as Christus beskou het om die geskenk te ontvang! Hulle het die teregwysing pynlik gevoel toe hulle die gekneusde liggaam van hul Here van die kruis áfhaal.GF 46.1

    Dieselfde leemte bestaan vandag in ons wêreld. Baie min mense besef wat Christus alles vir hulle beteken. As hulle dit besef het, sou hulle die groot liefde van Maria betoon het en sou die salwing vrylik geskied het. Die duur salf sou nie ‘n verkwisting genoem gewees het nie. Niks sou te duur geag word om vir Christus te gee nie, en geen selfverloëning of selfopoffering te groot om om Sy onthalwe te verduur nie.GF 46.2

    Die woorde van verontwaardiging: “Waarvoor is hierdie verkwisting?” het die grootste opoffering van alle tye - die gawe van Homself as die losprys vir ‘n verlore wêreld - by Christus duidelik voor die gees geroep. Die Here sou so milddadig teenoor die mensdom wees dat daar nie sou gesê kon word dat Hy meer kon gedoen het nie. In die gawe van Jesus het God die ganse hemel gegee. Uit die menslike oogpunt gesien, is so ‘n opoffering roekelose verkwisting. Menslik gesproke is die hele verlossingsplan ‘n verkwisting van genade en hulpbronne. Oral kom ons selfverloëning en heelhartige opoffering teen. Die hemelse leërskare kan wel verbaas neerkyk op die mensdom wat weier om opgehef en verryk te word met die oneindige liefde wat in Christus uitgedruk is. Hulle sou wel kon uitroep:“Waarvoor is hierdie verkwisting.”GF 46.3

    Maar die versoening vir ‘n verlore wêreld sou volledig, oorvloedig en volkome wees: Die offer van Christus was uitermate oorvloedig om elke siel wat God geskape het, te bereik. Dit kon nie beperk word sodat dit nie te veel sou wees vir die aantal wat die groot Gawe sou aanneem nie. Mense word nie almal gered nie; tog is die verlossingsplan nie ‘n verkwisting omdat dit nie alles bereik waarvoor sy milddadigheid voorsiening gemaak het nie. Daar moet genoeg en nog oor wees.GF 46.4

    Simon die gasheer was deur Judas se kritiek op Maria se geskenk beïnvloed en hy was verbaas oor Jesus se gedrag. Sy Farisese trots was gekrenk. Hy wis dat baie van sy gaste Christus wantrouig en misnoegd bejeën het. In sy hart het Simon gesê:“Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.”GF 47.1

    Deur Simon van melaatsheid te genees, het Christus hom van ‘n lewende dood gered. Maar nou het Simon getwyfel of die Heiland ‘n profeet was. Omdat Christus toegelaat het dat die vrou Hom nader, omdat Hy haar nie verontwaardig afgesnou het as een wie se sondes te groot is om vergewe te word nie, omdat Hy nie getoon het dat Hy wis sy was ‘n gevalle vrou nie, het Simon gedink Hy was nie ‘n profeet nie. Jesus weet niks van hierdie vrou wat so vrypostig is nie, het hy gedink, of Hy sou nie toegelaat het dat sy aan Hom raak nie.GF 47.2

    Maar dit was uit onkunde omtrent God en Christus dat Simon so gedink het. Hy het nie besef dat die Seun van God soos God moet optree nie - simpatiek, teder en genadig. Simon se weg was om Maria se boetediens te ignoreer. Dat sy Christus se voete kon soen en hulle met salf invryf, was tergend vir sy harde hart. As Christus ‘n profeet was, het hy gedink, sou Hy sondaars herken en bestraf het.GF 47.3

    Christus het sy onuitgesproke gedagte beantwoord met: “Simon, Ek het iets om jou te sê... ‘n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel die een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.”GF 47.4

    Soos Natan met Dawid gemaak het, het Christus Sy teregwysing in ‘n gelykenis gehul. Hy het dit aan Sy gasheer oorgelaat om oor homself oordeel te vel. Simonl het die vrou wat hy nou verag het, tot die sonde verlei. Hy het haar ‘n diepe onreg aangedoen. Die twee skuldenaars in die gelykenis het Simon en die vrou voorgestel. Jesus het nie bedoel dat die twee persone verskillende grade van verpligting moes voel nie, want elkeen was ‘n dank verskuldig wat hulle nooit sou kon betaal nie. Maar Simon het hom regverdiger as Maria geag, en Jesus wou hom laat sien hoe groot sy skuld werklik was. Hy wou hom toon dat sy skuld groter as hare was - soveel groter as wat ‘n skuld van vyfhonderd pennings teenoor ‘n skuld van vyftig pennings is.GF 47.5

    Simon het homself nou in ‘n nuwe lig begin sien. Hy het gesien hoe Maria bejeën word deur Een wat meer as ‘n profeet was. Hy het gesien dat Christus haar hart vol liefde en toewyding met ‘n skerp profetiese oog gelees het. Hy het skaam geword en besef dat hy in die teenwoordigheid was van Een wat groter was as hy.GF 48.1

    “Ek het in jou huis gekom,” het Christus voortgegaan, “water het jy nie vir my voete gegee nie;” maar Maria het, met trane van berou, deur liefde gedring, my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. ,,’n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy [wat jy verag] het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.“Christus het Simon op die geleenthede gewys wat hy gehad het om sy liefde vir sy Heer te betoon, asook sy waardering vir wat Hy vir hom gedoen het. Onomwonde, maar met fyngevoelige hoflikheid het die Heiland Sy dissipels te verstaan gegee dat dit Hom seermaak dat Sy kinders versuim om hul dank aan Hom met woorde en liefdedade te betoon. ?GF 48.2

    Die Ondersoeker van Harte het die motief deurvors wat Maria tot haar optrede beweeg het, en Hy het ook die gees geken wat gelei het tot Simon se woorde: “Sien jy hierdie vrou?” het Hy vir hom gesê. Sy is ‘n sondares.” Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.”GF 48.3

    Simon se onverskilligheid en versuim teenoor die Heiland het getoon hoe weinig hy die genade wat hy ontvang het, gewaardeer het. Hy het gedink Hy doen Jesus ‘n eer aan deur Hom na sy huis te nooi. Maar nou het hy homself gesien soos hy werklik was. Waar hy gedink het hy sien deur sy Gas, was dit sy Gas wat hom deurgekyk het. Hy het besef hoe reg Jesus hom beoordeel het. Sy godsdiens was ‘n kleed van Fari-seïsme. Hy het die medelye van Jesus verag. Hy het Hom nie herken as die verteenwoordiger van God nie. Waar Maria se sondes haar vergewe was, was hy ‘n onvergewe sondaar. Die onbuigbare maatstaf van geregtigheid wat hy op haar wou toepas, het hom nou veroordeel.GF 48.4

    Simon was getref deur die vriendelikheid van Jesus om hom nie openlik voor die gaste te bestraf nie. Hy is nie behandel soos hy wou gehad het Maria moet behandel word nie. Hy het gesien dat Jesus nie graag sy skuld voor andere aan die kaak wou stel nie, maar geprobeer het om hom met ‘n opregte uiteensetting van die geval te oortuig en sy hart met innige ontferming te versag. ‘n Krasse veroordeling sou Simon teen berou verhard het, maar ‘n geduldige vermaning het hom van sy fout oortuig. Hy besef watter geweldige skuld hy aan sy Here verskuldig is. Sy hoogmoed is vemeder, hy het hom bekeer, en die trotse Fariseër het ‘n nederige, selfopofferende dissipel geword.GF 48.5

    Maria is as ‘n groot sondares beskou, maar Christus was bewus van die omstandighede wat haar lewe gevorm het. Hy kon elke vonkie hoop in haar siel uitgeblus het, maar Hy het nie. Dit was Hy wat haar uit haar wanhoop en ondergang opgehef het. Sewe maal het sy gehoor hoe Hy die duiwels bestraf wat haar hart en gees beheers het. Sy het Sy geroep tot die Vader om haar ontwil gehoor. Sy wis hoe afstootlik die sonde vir Sy vlekkelose reinheid is, en in Sy krag het sy oorwin.GF 49.1

    Toe haar geval, menslik gesproke, hopeloos voorgekom het, het Christus goeie hoedanighede in haar gesien. Hy het die goeie karaktertrekke in haar raakgesien. Die verlossingsplan het die mensdom voor groot moontlikhede gestel, en in Maria sou hierdie moontlikhede vervul word. Deur Sy genade het sy ‘n deelgenoot aan die Goddelike natuur geword. Die een wat geval het en wie se gees die woonplek van duiwels geword het, is baie na aan die Heiland in gemeenskap en diens gebring. Dit was Maria wat aan Sy voete gesit en van Hom geleer het. Dit was Maria wat die kosbare olie op Sy hoof uitgegiet het en Sy voete met haar trane gewas het. Maria het langs die kruis gestaan en Hom na die graf gevolg. Maria was die eerste by die graf na Sy opstanding. Dit was Maria wat eerste die herrese Heiland verkondig het.GF 49.2

    Jesus is bekend met die omstandighede van elke siel. U kan sê: Ek is sondig, baie sondig. Miskien is u; maar hoe erger u is, hoe meer het u Jesus nodig. Hy wys geen wenende, berouvolle siel weg nie. Hy vertel nie aan andere alles wat Hy bekend kan maak nie, maar Hy nooi elke bewende siel om moed te skep. Almal wat na Hom kom vir vergifnis en herstel sal Hy oorvloediglik vergewe.GF 49.3

    Christus kan die engele uit die hemele beveel om die skale te laat val. Sy grimmigheid op die wêreld uit te gooi en almal wat vol haat vir God is te verdelg. Hy kan hierdie klad uit Sy heelal uitwis. Maar Hy doen dit nie. Hy staan vandag by die reukofferaltaar en bied aan God die gebede van diegene wat Sy hulp soek.GF 49.4

    Jesus verhef die siele wat hulle na Hom wend en skuiling soek bo die beskuldigings en getwis van tonge. Geen mens of bose engel kan die vinger na hierdie siele wys nie. Christus verenig hulle met Sy eie Goddelik-menslike natuur. Hulle staan langs die groot Sondedraer, in die lig wat van die troon van God straal:“Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Romeine 8:33,34. GF 50.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents