Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Eerste Geskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 57—Die Adventbeweging Geillustreer

    Ek het ‘n aantal groepe gesien wat skynbaar aan mekaar verbind was met koorde. Baie in hierdie groepe het in volslae duisternis verkeer, hulle oë was op die aarde gerig, en daar was oënskynlik geen verbintenis tussen hulle en Jesus nie. Maar versprei onder hierdie groepe was daar mense wie se aangesigte verlig was, en wie se oë na die hemel gerig was. Strale lig van Jesus, soos sonstrale, het op hulle geskyn. ‘n Engel het my beveel om goed te kyk, en toe het ek gesien dat ‘n engel oor elkeen van hierdie mense wat die ligstrale gehad het, gewaak het, terwyl bose engele rondom diegene was wat in duisternis gewandel het. Ek het ‘n engel hoor roep: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.”EG 241.1

    ‘n Heerlike lig het geskyn op hierdie groepe om almal te verlig wat die lig wou aanneem. Sommige van die wat in die duisternis was, het die lig aangeneem en hulle verbly. Ander het die lig van die hemel weerstaan, en gesê dat dit gestuur is om hulle te verlei. Die lig het van hulle weggegaan, en hulle is in duisternis gelaat. Diegene wat die lig van Jesus ontvang het, het blymoedig die vermeerderde lig aangeneem wat op hulle geskyn het. Hulle aangesigte het geglinster van heilige vreugde, terwyl hulle oë omhoog gerig was op Jesus, en saam met die stem van die engel is hulle stemme gehoor:“Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.”Terwyl hulle hierdie woorde geroep het, het ek gesien dat diegene wat in duisternis was, hulle met die sy en die skouer gedruk. het. Toe het baie van diegene wat die heilige lig aangeneem het die bande verbreek wat hulle gebind het, sodat hulle afgeskei is van daardie groepe. Onderwyl hulle dit gedoen het, het manne wat aan die verskillende groepe behoort het, en wat deur hulle geëer was, tussen hulle deurgegaan; sommige met mooi woorde, en ander met ‘n woedende aanblik en dreigende gebare, en hulle het die bande weer vasgemaak wat losgegaan het. Hierdie manne het aanhoudend gesê: “God is met ons. Ons staan in die lig. Ons het die waarheid.” Ek het gevra wie hierdie mense is, en daar is aan my gesê dat hulle predikante en vooraanstaandes is wat self die lig verwerp het, en onwillig is dat ander dit moet aanneem.EG 241.2

    Ek het gesien dat diegene wat die lig liefgehad het, met groot verlange na bo gekyk het, in die verwagting dat Jesus sou kom om hulle na Hom toe te neem. Eerlank het daar ‘n wolk oor hulle gekom, en hulle gesigte het baie droewig geword. Ek het gevra wat die wolk veroorsaak het, en aan my is getoon dat dit hulle teleurstelling is. Die tyd waarop hulle die Heiland verwag het, het verbygegaan en Jesus het nie gekom nie. Moedeloosheid het die wagtendes oorval, die predikante en leiers wat ek ‘n rukkie tevore gesien het, het hulle verheug, en almal wat die lig verwerp het, het getriomfeer, terwyl die Satan en sy bose engele gejuig het.EG 241.3

    Toe het ek die stem van ‘n ander engel hoor sê: “Geval, geval het Babilon!”‘n Lig het geskyn op die”moedeloses, en met groot verlange na Sy koms, het hulle weer hulle oë op Jesus gevestig. Ek het ‘n aantal engele sien praat met die een wat geroep het, “Geval het Babilon,“en hulle het hulle stemme met syne verenig in die geroep, “Daar kom die bruidegom, gaan uit hom tegemoet.” Die musikale stemme van daardie engele het orals binnegedring. ‘n Baie helder en heerlike lig het rondom diegene geskyn wat die lig liefgehad het wat aan hulle gegee is. Hulle aangesigte het gestraal van heerlikheid, en hulle het saam met die engele geroep,“Daar kom die bruidegom!”Terwyl hulle in die verskillende groepe saam hulle stemme verhef het, het diegene wat die lig verwerp het, woedend teen hulle gestamp, en hulle bespot en gehoon. Maar engele van God het met hulle vlerke gewaai oor die vervolgdes, terwyl die Satan en sy engele geprobeer het om hulle duisternis om hulle te werp en hulle te beweeg om die lig van die hemel te verwerp.EG 242.1

    Toe het ek ‘n stem hoor sê aan diegene wat rondgestamp en bespot is, “Gaan onder hulle uit, en raak nie aan wat onrein is nie.” In gehoorsaamheid aan daardie stem, het ‘n groot aantal die bande verbreek wat hulle gebind het, die groepe verlaat wat in duisternis was, en aangesluit by diegene wat reeds vry was, en hulle stemme saam met hulle verhef. Ek het ernstige, vurige gebede gehoor van diegene wat nog by groepe was wat in duisternis verkeer het. Die predikante en vooraanstaande manne het onder hierdie groepe beweeg en die bande stywer gebind, maar nog het ek die ernstige gebede gehoor.Toe het ek gesien dat diegene wat gebid het, hulle hande uitsteek om hulp na die verenigde groep wat vry was en wat hulle in God verbly het. Die antwoord wat hulle gegee het terwyl hulle ernstig na die hemel gekyk en na omhoog gewys het, was, “Gaan uit van hulle en sonder julle af.”Ek het indiwidue sien worstel om vryheid, en eindelik het hulle die bande verbreek wat hulle gebind het. Hulle het hulle verset teen die pogings om die bande weer stywer te bind, en hulle het die herhaalde bewerings:“God is met ons”en “ons het die waarheid” verwerp.EG 242.2

    Gedurig het persone die groepe verlaat wat in duisternis was, en aangesluit by die vry groep wat, soos dit geskyn het, in ‘n oop land was wat bokant die aarde verhef was. Hulle het na bo gekyk, die heerlikheid van God het op hulle gerus, en hulle het Hom met blydskap geloof. Hulle was verenig, en dit het geskyn asof hulle deur ‘n hemelse lig omhul was. Rondom hierdie groep was daar sommige wat onder die invloed van die lig gekom het, maar wat nie juis met die groep verenig was nie. Almal wat die lig liefgehad het wat op hulle geskyn het, het met groot belangstelling omhoog gekyk, en Jesus het hulle met soete goedkeuring bejeën. Hulle het verwag dat Hy sou kom, en het verlang na Sy koms. Hulle het nie weer met verlange na die aarde teruggekyk nie. Maar weer het daar ‘n wolk oor hulle gekom, en ek het gesien dat hulle na benede kyk. Ek het gevra wat die oorsaak van hierdie verandering was. Die engel by my het gesê,“Hulle is weer teleurgestel in hulle verwagting. Jesus kan nog nie na die aarde toe kom nie. Hulle sal groter beproewings moet verduur vir Sy ontwil. Hulle sal die dwalings en oorlewerings wat hulle van mense ontvang het, moet opgee, en heeltemal moet terugkeer na God en Sy Woord. Hulle moet gereinig word, wit gemaak en beproef word. Diegene wat daardie bitter beproewing kan verduur, sal die ewige oorwinning behaal.”EG 243.1

    Jesus het nie na die aarde gekom om, soos die wagtende, blye groep verwag het, die heiligdom te reinig deur die aarde met vuur te louter nie. Ek het gesien dat hulle reg was met die berekening van die profetiese tydperke, profetiese tyd het geëindig in 1844, en Jesus het die allerheiligste plek binnegegaan om die heiligdom te reinig aan die einde van die dae. Hulle het die fout begaan omdat hulle nie verstaan het wat die heiligdom was en hoe dit gereinig sou word nie.Toe ek weer kyk na die wagtende, teleurgestelde groep, het hulle baie hartseer gelyk. Hulle het sorgvuldig die bewyse van hulle geloof nagegaan, en ook die berekening van die profetiese tydperke, maar hulle kon geen fout ontdek nie. Die tyd is vervul, maar waar was hulle Heiland? Hulle het Hom verloor.EG 243.2

    Die teleurstelling van die dissipels, toe hulle by die graf gekom en die liggaam van Jesus nie daar gevind het nie, is aan my getoon. Maria het gesê, “Hulle het my Here weggeneem, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Engele het aan die treurende dissipels vertel dat hulle Here opgestaan het, en voor hulle uit sou gaan na Galilea.EG 244.1

    Ek het gesien dat Jesus hierdie teleurgesteldes wat gewag het op 5y koms, net so ook met die grootste ontferming bejeën het; en Hy het Sy engele gestuur om hulle verstand te verlig sodat hulle Hom kon volg waar Hy was. Hy het hulle gewys dat hierdie aarde nie die heiligdom was nie, maar dat Hy die allerheiligste plek in die hemel moes binnegaan om versoening te doen vir Sy volk, en om die koninkryk van Sy Vader te ontvang, en dat Hy na die aarde sou terugkeer om hulle te kom haal om vir ewig by Hom te woon. Die teleurstelling van die eerste dissipels is ‘n goeie voorstelling van die teleurstelling van diegene wat hulle Here in 1844 verwag het.EG 244.2

    Ek is teruggeneem tot die tyd van Christus se triomfantlike intog in Jerusalem. Die blymoedige dissipels het geglo dat Hy toe die koninkryk sou neem en regeer soos ‘n aardse vors. Hulle het hulle Koning met groot hoop gevolg. Hulle het die mooi palmtakke afgesny, en van hulle klere uitgetrek en dit ywerig op Sy weg gesprei; en sommige het voorgeloop, en ander het agterna gekom, en hulle het uitgeroep, “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” Die opwinding het die Fariseërs ontstel, en hulle het Jesus gevra om Sy dissipels te bestraf. Maar Hy het aan hulle gesê,“As hulle swyg, sal die klippe uitroep.” Die profesie van Sagaria 9:9 moes vervul word; maar die dissipels was gedoem tot ‘n bittere teleurstelling. Binne ‘n paar dae het hulle Jesus na Golgota gevolg, en daar het hulle Hom bebloed en verwond aan die wrede kruis gesien. Hulle het gesien hoedat Hy aan die kruis sterf, en hulle het Hom gaan begrawe. Hulle harte het weggesink in droefheid; hulle verwagtings is nie in een enkele opsig verwesenlik nie, en hulle hoop het saam met Jesus gesterf. Maar toe Hy uit die dode opgestaan en aan Sy treurende dissipels verskyn het, het hulle hoop herleef. Hulle het Hom weer gevind.EG 244.3

    Ek het gesien dat die teleurstelling van diegene wat geglo het in die koms van die Here in 1844, nie so groot was as die teleurstelling van die eerste dissipels nie. Die eerste en die tweede engele se boodskappe was ‘n vervulling van profesie. Hulle is op die regte tyd gegee, en hulle het die werk gedoen wat God bedoel het dat hulle moet doen.EG 245.1

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents