Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Eerste Geskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 38—Die Verheerliking

    Die geloof van die dissipels is baie versterk deur die verheerliking, toe hulle toegelaat is om Christus se heerlikheid te sien en die stem uit die hemel te hoor wat getuig het van Sy goddelike karakter. God het aan die volgelinge van Jesus sterk bewys gegee dat Hy die beloofde Messias is, sodat hulle in hulle bittere droefheid by Sy kruisiging nie heeltemal vertroue sou verloor nie. Tydens die verheerliking het die Here Moses en Elia gestuur om met Christus te spreek oor Sy lyde en dood. Pleks dat Hy engele gekies het om te spreek met die Seun van God, het God diegene gekies wat self die beproewings van hierdie aarde ondervind het.EG 159.1

    Elia het met God gewandel. Sy werk was swaar en moeilik, want deur hom het die Here die sondes van Israel bestraf. Elia was ‘n profeet van God; en nogtans was hy verplig om van plek tot plek te vlug om sy lewe te behou. Sy eie volk het op hom jag gemaak soos op ‘n wilde dier, om hom te dood. Maar God het Elia verheerlik. Engele het hom in heerlikheid en oorwinning opgeneem na die hemel.EG 159.2

    Moses was groter as enige persoon wat ooit voor hom gelewe het. God het hom grootliks vereer deurdat hy bevoorreg was om van aangesig tot aangesig met God te spreek, soos iemand met ‘n vriend sou praat. Hy is toegelaat om die heerlike lig te sien wat die Vader omhul. Deur Moses het die Here die kinders van Israel verlos uit die Egiptiese slawerny. Moses was ‘n middelaar vir sy volk, en dikwels het hy tussen hulle en die toorn van God gestaan. Toe die Here baie toornig was oor die ongeloof van Israel, hulle murmurering, en hulle snode sondes, is Moses se liefde vir Israel op die proef gestel. God het besluit om hulle te verdelg en van hom ‘n magtige volk te maak. Moses het sy liefde vir Israel getoon deur sy ernstige pleidooi vir hulle behoud. In sy droefheid het hy God gebid om Sy toorngloed op hom te laat neerkom, en om Israel te vergewe, of so nie, om sy naam uit te delg uit Sy boek.EG 159.3

    Toe Israel teen God en teen Moses gemurmureer het omdat hulle geen water kon kry nie, het hulle hom daarvan beskuldig dat hy hulle gelei het om hulle en hulle kinders te laat sterf. God het hulle murmurering gehoor en Moses gebied om tot die rots te spreek sodat die mense water kon kry. In sy woede het Moses die rots geslaan, en die heerlikheid vir homself geneem. Die gedurige gemor van die kinders van Israel het hom die grootste droefheid besorg, en vir ‘n tydjie het hy vergeet hoeveel die Here reeds van hulle verdra het, en dat hulle gekla nie teen hom was nie, maar teen God. Hy het slegs aan homself gedink, hoe hy verontreg is, en hoe min dankbaarheid hulle getoon het as loon vir sy groot liefde vir hulle.EG 159.4

    Dit was Gods plan om Sy volk dikwels in moeilike plekke te bring, en hulle dan in hulle nood deur Sy krag te verlos, sodat hulle ‘n besef kon kry van Sy liefde en sorg vir hulle. Maar Moses het nagelaat om God te eer en Sy Naam groot te maak voor Sy volk sodat hulle Hom mag verheerlik. Daardeur het hy God mishaag.EG 160.1

    Toe Moses van die berg af gekom het met die twee kliptafels, en sien hoedat Israel die goue kalf aanbid, het hy baie kwaad geword en die kliptafels neergegooi sodat hulle gebreek het. Ek het gesien dat Moses in hierdie geval nie gesondig het nie. Hy het namens God kwaad geword, en hy het hom beywer vir Sy heerlikheid. Maar toe hy toegegee het aan die natuurlike gevoelens van sy hart en vir homself die eer geneem het wat God toegekom het, het hy gesondig, en vir daardie sonde sou God hom nie toelaat om die land Kanaan binne te gaan nie.EG 160.2

    Die Satan het getrag om iets te kry waarvoor hy Moses kon beskuldig voor die engele. Hy was baie bly oor sy sukses toe hy hom gelei het om God te mishaag, en hy het aan die engele gesê dat hy ook die Verlosser van die wêreld sou oorwin wanneer Hy kom om die mens te verlos. Weens sy oortreding het Moses onder die mag van die Satan gekom-naamlik die heerskappy van die dood. As hy getrou gebly het, sou die Here hom in die beloofde land gebring het, en Hy sou hom na die hemel geneem het sonder om die dood te smaak.EG 160.3

    Moses het gesterf, maar Migael het neergedaal om hom lewendig te maak voordat sy liggaam die verderf gesien het. Die Satan het geprobeer om die liggaam te hou, en hy het daarop aanspraak gemaak as syne; maar Migael het Moses opgewek en na die hemel geneem. Die Satan het hom bitterlik hierteen verset en teen God uitgevaar dat Hy onregverdig is deur toe te laat dat sy prooi hom ontneem word; maar Christus het nie Sy teenstander bestraf nie, alhoewel dit ten gevolge van sy versoeking was dat die dienaar van God geval het. Sagmoedig het Hy die Satan na Sy Vader verwys, en gesê, “Die Here bestraf jou!”EG 160.4

    Jesus het aan Sy dissipels gesê dat daar sommige by Hom staan wat die dood nie sou sien voordat hulle die koninkryk van God sou sien kom met krag nie. By die verheerliking is hierdie belofte vervul. Die gelaat van Jesus is daar verander, en dit het geblink soos die son. Sy kleed was wit en het geglinster. Moses was teenwoordig as verteenwoordiger van diegene wat uit die dode opgewek sou word by die wederkoms van Christus. Elia, wat verheerlik is sonder om die dood te sien, het diegene verteenwoordig wat in onsterflikheid verander sal word by die tweede koms van Christus, en na die hemel geneem sal word sonder om die dood te sien. Die dissipels het met vrees en verbasing die majesteit van Jesus aanskou, en die wolk wat hulle oorskadu het, en hulle het die stem in vreeslike majesteit hoor sê, “Dit is My geliefde Seun, luister na Hom.”EG 161.1

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents