Hoofstuk 19—Mevrou White Se Drome
(Waarna verwys word op bladsy 12)
Ek het gedroom dat ek ‘n tempel sien waarheen baie mense gestroom het. Alleen diegene wat in daardie tempel skuiling gevind het, sal gered word wanneer die tyd sal eindig. Almal wat buitekant gebly het, sal vir ewig verlore wees. Die menigtes daarbuite, wat op hulle verskillende weë voortgegaan het, het die spot gedryf met diegene wat die tempel binnegegaan het, en het aan hulle gesê dat hierdie veiligheidsplan ‘n listige bedrog was, en dat daar, om die waarheid te sê, werklik geen gevaar was om te vermy nie. Hulle het selfs die hande aan sommige geslaan om hulle te belet om binne daardie mure te gaan.EG 75.1
Omdat ek bang was dat hulle vir my sou lag en spot, het ek gereken dat ek sou wag totdat die skare uiteengegaan het, of totdat ek onopgemerk sou kon binnegaan. Maar die skare het aangegroei pleks van te verminder, en omdat ek bang was dat ek te laat mag wees, het ek haastig my huis verlaaten deur die skare gedruk. In my angs om die tempel te bereik, het ek nie omgegee vir die menigtes wat my omring het nie; ek het hulle nie eens gesien nie. Toe ek die gebou binnegaan, het ek gesien dat die tempel gerus het op ‘n reuse pilaar waaraan ‘n Lam gebind was wat geskeur en vergruis en bebloed was. Ons wat daar teenwoordig was, het geweet dat die Lam vir ons ontwil so verskeur en vergruis was. Almal wat die tempel binnegegaan het, moes voor die Lam kom en hulle sondes bely.EG 75.2
Net voor die Lam was daar verhewe sitplekke waarop ‘n klomp mense gesit het wat baie gelukkig gelyk het. Die lig van die hemel het in hulle gesigte gestraal; hulle het God geloof en dankliedere gesing wat soos die musiek van engele was. Hulle is die mense wat voor die Lam gekom, hulle sondes bely en vergifnis ontvang het, en nou het hulle met blye verwagting uitgesien na ‘n heerlike gebeurtenis.EG 75.3
Nadat ek die tempel binnegegaan het, het ‘n vrees my beetgepak, en ek het skaam gevoel dat ek my voor hierdie mense moes verneder. Maar ek was verplig om voorwaarts te beweeg, en ek het stadig om die pilaar geloop sodat ek voor die Lam kon kom. Toe is daar op ‘n basuin geblaas, die tempel het geskud, die heiliges wat vergader het, het ‘n triomfkreet aangehef en ‘n vreeslike lig het die gebou verlig, en toe was alles in stikdonkerheid gehul. Die gelukkige mense het verdwyn saam met die helder lig, en ek was alleen in die vreeslike stilte van die nag.EG 75.4
Vreeslik beangs het ek wakker geskrik, en ek kon myself skaars oortuig dat ek gedroom het. Dit het vir my gevoel of my ondergang beslis is, dat die Gees van die Here my verlaat het om nooit weer terug te kom nie. My neerslagtigheid het nog groter geword-as dit moontlik was.EG 76.1
Kort daarna het ek nog ‘n droom gehad. Dit was asof ek in wanhoop gesit het, met my gesig in my hande, en as volg gepeins het: As Jesus op die aarde was, sou ek na Hom toe gaan, my aan Sy voete neerwerp, en Hom vertel van al my lyding. Hy sou nie van my weggaan nie; Hy sou my genadig wees, en ek sou Hom altyd liefhê en dien. Op daardie oomblik het daar ‘n deur oopgegaan, en ‘n persoon met ‘n pragtige voorkoms en gelaat het binnegekom. In jammerte het hy na my gekyk en gesê: “Verlang jy om Jesus te sien? Hy is hier en jy kan Hom sien as jy graag wil. Neem alles wat jy het en volg my.”EG 76.2
Ek het dit met die allergrootste blydskap gehoor, en blymoedig het ek my goed opgeneem, elke kosbare ou dingetjie, en my gids gevolg. Hy het my na ‘n steil en onstewige trap gelei. Toe ek die trappe begin klim, het hy my gewaarsku om na bo te kyk, anders kon ek duiselig word en val. Baie van die wat besig was om die steilte uit te klim, het geval voordat hulle bo was.EG 76.3
Eindelik het ons die boonste trappie bereik en voor die deur gestaan. Daar het my gids my beveel om al die goed wat ek saamgebring het, neer te sit. Ek het die goed blymoedig neergesit; toe het hy ‘n deur oopgemaak en my beveel om in te gaan. Binne ‘n oomblik het ek voor Jesus gestaan. Mens kon sommer dadelik Sy mooi gestalte uitken. So ‘n stralende uitdrukking van goedheid en majesteit kon aan niemand anders behoort het nie. Toe Hy na my kyk, het ek dadelik geweet dat Hy bekend is met elke omstandigheid van my lewe, en ook al my gedagtes en gevoelens geken het.EG 76.4
Ek het geprobeer om myself te bedek vir Sy aanblik, want ek het gevoel dat ek nie Sy deursoekende oë kon verduur nie, maar Hy het nader gekom met ‘n glimlag, en Sy hand op my hoof gelê en gesê: “Moenie vrees nie.” Sy soetklinkende stem het my hart laat tril van ‘n geluk wat ek nog nooit voorheen geken het nie. Ek was te bly om ‘n woord te sê, en oorstelp van geluk het ek aan Sy voete neergesak. Terwyl ek daar hulpeloos gelê het, het daar heerlike tonele voor my verbygegaan, en dit het gevoel asof ek die veiligheid en die vrede van die hemel bereik het. Eindelik het my krag weer teruggekom, en het ek opgestaan. Die liefdevolle oë van Jesus was nog op my, en Sy glimlag het my siel met vreugde vervul. Sy teenwoordigheid het my met ‘n heilige eerbied en ‘n onbeskryflike liefde vervul.EG 76.5
My gids het nou die deur oopgemaak, en ons het uitgegaan. Hy het my beveel om weer my goed op te tel wat ek buite agtergelaat het. Toe het hy aan my ‘n groen tou gegee wat styf opgerol was. Hy het gesê dat ek dit teen my hart moes dra, en wanneer ek Jesus wou sien, moes ek dit uit my boesem haal en heeltemal afrol tot die volle lengte. Hy het my gewaarsku om dit nooit vir ‘n lang tyd opgerol te hou nie, want dit kon geknoop raak sodat dit nie maklik reguit gemaak kon word nie. Ek het die tou teenoor my hart geplaas, en het met vreugde langs die smal trap afgegaan; ek het die Here geloof en almal wat ek teëgekom het, blymoedig vertel waar hulle Jesus kon vind. Hierdie droom het my hoop gegee. Die groen tou het geloof voorgestel, en die vreugde en eenvoud van vertroue op God het in my donker siel begin duidelik word.EG 77.1
_______________