Hoofstuk 42—Die Opstanding Van Christus
Die dissipels het op die Sabbat gerus, en getreur oor die dood van hulle Here, terwyl Jesus, die Koning van heerlikheid, in die graf gelê het.Toe dit begin aand word, is ‘n soldate-wag geplaas by die rusplek van die Heiland, terwyl engele, onsigbaar, oor die heilige plek gesweef het. Stadig het die nag verbygegaan, en terwyl dit nog donker was, het die engele-wag geweet dat die tyd vir die verlossing van Gods dierbare Seun, hulle geliefde Aanvoerder, byna daar was. Onderwyl hulle met die grootste aandoening gewag het op die uur van triomf, het ‘n magtige engel vinnig van die hemel af aangevlieg gekom. Sy gelaat was soos die weerlig, en sy kleed was so wit soos sneeu. Sy lig het die duisternis verdryf op sy pad, en dit het die bose engele, wat aanspraak gemaak het op die liggaam van Jesus, in vrees laat vlug voor sy verblindende lig en heerlikheid. Een uit die skare van engele wat die toneel van Christus se vernedering aanskou het, en wat daar by Sy rusplek waggehou het, het aangesluit by die engel uit die hemel, en saam het hulle na die graf gegaan. Die aarde het geskud en gebewe toe hulle aankom, en daar was ‘n groot aardbewing.EG 179.1
Die Romeinse wag was vreesbevange. Waar was nou hulle mag om die liggaam van Jesus te hou? Toe het hulle nie aan hulle plig gedink, of aan die moontlikheid dat die dissipels Sy liggaam mag steel nie.Terwyl die lig van die engele, wat helderder as die son geskyn het, alles daar verlig het, het die Romeinse wag op die grond neergeval soos dooie mense. Een van die engele het die klip beetgepak en dit weggerol voor die ingang van die graf, en hy het daarop gaan sit. Die ander een het die graf binnegegaan en die doek om Jesus se hoof afgehaal. Toe het die engel uit die hemel, met ‘n groot stem wat die aarde laat bewe het, geroep, “Seun van God, U Vader roep U! Kom uit.” Die dood kon nie langer oor Hom heerskappy voer nie. Jesus het uit die dode opgestaan, ‘n groot oorwinnaar. Met die grootste eerbied het die engele die toneel aanskou. En terwyl Jesus uit die graf voortkom, het daardie skitterende engele hulle in die stof neergebuig in aanbidding, en hulle het Hom begroet met oorwinningsliedere.EG 179.2
Die engele van die Satan was verplig om te vlug voor die deurdringende lig van die hemelse engele, en hulle het bitter gaan kla by hulle koning omdat hulle prooi met sulke geweld van hulle ontneem is, en dat die, Een wat hulle so bitsig gehaat het, uit die dode opgestaan het. Die Satan en sy leërskare het hulle verbly dat hulle mag oor die gevalle mens ten gevolg gehad het dat die Here van die lewe in die graf moes gelê word, maar hulle helse triomf was van korte duur. Want toe Jesus voortgekom het uit Sy gevangenis, ‘n koninklike oorwinnaar, het die Satan geweet dat hy self na ‘n tyd sal moet sterf, en dat sy koninkryk sou gaan na Hom wat reg het daarop. Hy was egter woedend dat Jesus, ondanks al sy pogings, nie oorwin is nie, maar die verlossings weg vir die mens geopen het, sodat almal wat dit wil bewandel, gered kon word.EG 179.3
Die bose engele en hulle aanvoerder het raad gehou om die vraag te bespreek op watter manier hulle nog teen die regering van God kon werk. Die Satan het sy dienaars beveel om na die owerpriesters en ouderlinge te gaan. Hy het gesê: “Ons het daarin geslaag om hulle te bedrieg, hulle oe te verblind, en hulle harte teen Jesus te verhard. Ons het hulle laat glo dat Hy ‘n bedrieër was. Daardie Romeinse wag sal die haatlike nuus bring dat Christus opgestaan het. Ons het die priesters en ouderlinge gelei om Jesus te haat en Hom om die lewe te bring. Laat hulle nou verstaan dat as dit bekend word dat Jesus opgestaan het, sal die mense hulle stenig omdat hulle ‘n onskuldige man gedood het.”EG 180.1
Toe die leërskare van hemelse engele die graf verlaat, en die lig van hulle heerlikheid verdwyn het, het die Romeinse wag dit gewaag om hulle hoofde op te lig en rond te kyk. Hulle was met verbasing vervul toe hulle sien dat die groot klip by die ingang van die graf weggerol, en dat die liggaam van Jesus weg was. Hulle is haastig na die stad om aan die priesters en ouderlinge te gaan vertel wat hulle gesien het.Terwyl daardie moordenaars geluister het na die wonderbaarlike rapport, het hulle gesigte verbleek. Hulle het gesidder van vrees by die gedagte aan wat hulle gedoen het. As die rapport waar is, is hulle verlore. Vir ‘n tyd het hulle spraakloos gesit, en mekaar aangestaar sonder om te weet wat om te sê of te doen. Om die rapport aan te neem, was om hulleself te veroordeel. Hulle het opsy gegaan om te beraadslaag wat gedoen moet word. Hulle het geredeneer dat as die rapport van die wag onder die mense versprei word, sou diegene wat Christus gedood het, ook gedood word as Sy moordenaars. Daar is toe besluit om die soldate om te koop om die saak geheim te hou. Die priesters en ouderlinge het hulle ‘n groot som geld aangebied, en gesê;”Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.” En toe die wag wou weet wat met hulle sou gebeur omdat hulle op hulle pos geslaap het, het die Joodse beamptes belowe om met die goewerneur te praat en hulle veiligheid te verseker.EG 180.2
Vir geld het die Romeinse wag hulle eer verkoop, en ingestem om te handel soos die priesters en ouderlinge voorgestel het.EG 181.1
Toe Jesus daar aan die kruis uitgeroep het, “Dit is volbringis die rotse losgeskeur, die aarde is geskud, en sommige van die grafte is geopen.Toe Hy opgestaan het as oorwinnaar oor die dood en die graf, en terwyl die aarde gebewe het en die heerlikheid van die hemel rondom daardie heilige plek geskyn het, het baie van die regverdige dode, in gehoorsaamheid aan Sy roepstem, voortgekom as getuies dat Hy opgestaan het. Daardie bevoorregte, verrese heiliges, het verheerlik voortgekom. Hulle was uitverkorenes en heiliges van elke eeu, van die skepping af tot die dae van Christus. Dus, terwyl die Joodse ouderlinge pogings aangewend het om die feit van Christus se opstanding te bedek, het God verkies om ‘n aantal uit hulle grafte te laat opstaan om te getuig dat Jesus opgestaan het, en om Sy heerlikheid te verkondig.EG 181.2
Daardie verrese heiliges het verskil in lengte en voorkomste, sommige het ‘n edeler voorkomste gehad as ander. Aan my is meegedeel dat die bewoners van die aarde steeds gedegenereer het, en hulle krag en aanvalligheid verloor het. Die Satan het die mag van siekte en die dood gehad, en namate die eeue verloop het, het die uitwerking van die vloek meer sigbaar geword, en die mag van die Satan kon duideliker gesien word. Diegene wat geleef het in die dae van Noag en Abraham het gelyk soos die engele in voorkomste, aanvalligheid, en sterkte. Maar die daaropvolgende geslagte het steeds swakker geword en vatbaarder vir siekte, en hulle lewens was korter. Die Satan het geleer hoe om die mensdom te teister en te verswak.EG 181.3
Diegene wat opgestaan het ná die opstanding van Jesus, het aan baie verskyn; hulle het vertel dat die opoffering vir die mens volkome was; dat Jesus, wat deur die Jode gekruisig is, opgestaan het uit die dode; en om te bewys dat hulle woorde waar is, het hulle verklaar, “Die Here het opgestaan, en ons het saam met Hom opgestaan.”Hulle het getuig dat dit deur Sy krag was dat hulle tevoorskyn geroep is uit hulle grafte. Ten spyte van die valse rapporte wat versprei is, kon die opstanding van Christus nie deur die Satan, sy engele, of die owerpriesters bedek word nie; want die heiliges wat uit die graf gebring is; het die wonderbaarlike en blye nuus versprei; en ook Jesus het Homself getoon aan Sy treurende, hartseer dissipels, sodat hulle vrees verban en groot blydskap in hulle harte gekom het.EG 181.4
Namate die nuus van stad tot stad en van dorp tot dorp versprei het( het die Jode op hulle beurt weer gevrees vir hulle eie lewe, en daarom het hulle die haat bedek wat hulle gekoester het teenoor die dissipels. Hulle enigste hoop was om die valse rapport te versprei. En diegene wat graag hierdie leuen wou glo, het dit aangeneem. Pilatus het gesidder toe hy hoor dat Jesus opgestaan het. Hy kon die getuienis wat gegee is; nie betwyfel nie, en van daardie uur af het hy nooit weer vrede gehad nie. Vir wêreldse eer, en omdat hy gevrees het dat hy sy gesag en sy lewe sou verloor, het hy Jesus oorgelewer in die dood. Hy was nou ten volle oortuig dat dit nie alleen ‘n onskuldige man was wie se bloed hy laat vergiet het nie, maar dat dit die Seun van God was. Pilatus was miserabel tot sy dood toe, Angs en wanhoop het alle hoop en alle blydskap in sy lewe verpletter. Hy was troosteloos, en het ‘n aaklige dood gesterf.EG 182.1
Die hart van Herodes het nog meer verhard, en toe hy hoor dat Christus opgestaan het, was hy nie baie ontstel nie. Hy het Jakobus laat doodmaak, en toe hy sien dat dit die Jode behaag het, het hy ook Petrus laat vang met die doel om hom te dood. Maar God het werk vir Petrus gehad, en daarom het Hy Sy engel gestuur om hom te verlos. Die oordele van God het Herodes getref. Terwyl hy hom eendag weer verhef het voor ‘n groot skare, het die engel van die Here hom getref, en hy het ‘n vreeslike dood gesterf.EG 182.2
Vroeg in die more van die eerste dag van die week, nog voor dit lig was, het die heilige vroue na die graf gekom met speserye om die liggaam van Jesus te salf. Hulle het gevind dat die swaar klip voor die ingang van die graf weggerol, en die liggaam van Jesus weg was. Hulle moed het hulle begeef, en hulle het gevrees dat vyande die liggaam weggeneem het.EG 183.1
Skielik het hulle twee engele in wit klere en blinkende gesigte gesien. Hierdie hemelse wesens het geweet waarvoor die vroue gekom het, en het hulle dadelik meegedeel dat Jesus nie daar was nie; Hy het opgestaan, maar hulle het kom kyk na die plek waar Hy gelê het. Hulle het die vroue toe beveel om aan Sy dissipels te gaan vertel dat Hy hulle sou voorgaan na Galilea. Met vrees en groot blydskap het die vroue haastig teruggegaan na die treurende dissipels, en hulle die dinge vertel wat hulle gesien en gehoor het.EG 183.2
Die dissipels kon dit nie glo dat Christus opgestaan het nie, maar, vergesel van die vroue wat die berig gebring het, het hulle haastig na die graf gehardloop. Hulle het gevind dat Jesus nie daar was nie; hulle het Sy linne-kleed gesien, maar kon nie die goeie nuus glo dat Hy uit die dode opgestaan het nie. Hulle is huis toe, verwonderd oor wat hulle gesien het, en ook oor die rapport wat die vroue gebring het. Maar Maria het verkies om daar in die nabyheid van die graf te vertoef, peinsende oor wat sy gesien het, en ontstel deur die gedagte dat sy miskien bedrieg kon wees. Sy het gevoel dat nuwe beproewings vir haar gewag het. Haar droefheid is verskerp, en sy het bitter geween. Sy het gebuk om in die graf te kyk, en toe het sy twee engele in wit gesien. Een het gesit waar die hoof van Jesus gelê het, en die ander een waar Sy voete was. Hulle het haar tederlik aangespreek en gevra waarom sy ween. Sy het geantwoord, “Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”EG 183.3
Toe sy wegdraai van die graf af, het sy Jesus daar naby sien staan, maar sy het Hom nie geken nie. Hy het haar liefderyk aangespreek en gevra waarom sy so treurig is en wie sy soek. Menende dat Hy die tuinier was, het sy Hom smekend gevra dat as Hy haar Here weggeneem het Hy haar tog moet sê waar Hy Hom gelê het; sodat sy Hom kon wegneem. Jesus het haar aangespreek met Sy eie hemelse stem, en gesê, “Maria!” Sy het daardie stembuiging geken, en dadelik het sy geantwoord,“Rabboeni!”en in haar blydskap wou sy Hom omhels; maar Jesus het gesê, “Moenie My aanraak nie, want Ek het nog nie opgevaar na My Vader nie; maar gaan na My broers en sê vir hulle: Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en My God en julle God” Blymoedig het sy na die dissipels gehaas met die goeie nuus. Jesus het gou na Sy Vader opgevaar om van Sy eie lippe te hoor dat Hy die soenoffer aangeneem het, en om alle krag in hemel en op aarde te ontvang.EG 183.4
Engele soos ‘n wolk het die Seun van God omring en die ewige poorte beveel om oop te gaan sodat die Koning van heerlikheid kon ingaan.Terwyl Jesus by daardie hemelse leërskare was, in die teenwoordigheid van God, en omring deur Sy heerlikheid, het ek gesien dat Hy nie Sy dissipels op die aarde vergeet het nie, maar krag van Sy Vader ontvang het sodat Hy dit weer aan hulle kon gee. Hy het daardie selfde dag weer teruggekeer en Homself aan Sy dissipels getoon. Hy het hulle toe toegelaat om Hom aan te raak, want Hy het na Sy Vader opgevaar en het krag ontvang.EG 184.1
By daardie geleentheid was Thomas nie teenwoordig nie. Hy wou nie nederig die rapport van die dissipels aanneem nie, maar het vasberade en vol selfvertroue gesê dat hy nie sou glo tensy hy sy vingers in die spykermerke kon steek, en in die sy van Jesus waar die spieswond was nie. Daardeur het hy sy gebrek aan vertroue in sy broeders getoon. As almal dieselfde soort bewys sou eis, sou niemand vandag Jesus aanneem en in Sy opstanding glo nie. Maar dit was die wil van God dat die rapport van die dissipels aangeneem moet word deur diegene wat nie self die verrese Heiland gesien en gehoor het nie. Die ongeloof van Thomas het God nie behaag nie. Toe Jesus Sy dissipels weer ontmoet het, was Thomas ook by hulle; en toe hy Jesus sien, het hy geglo. Maar hy het gesê dat hy nie sou tevrede wees sonder die bewyse van aanraking, plus die getuienis van sy oë nie, en toe het Jesus hom die bewyse gegee wat hy verlang het. Thomas het uitgeroep, “My Here en my God!” Maar Jesus het hom bestraf vir sy ongeloof, en gesê, “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het”EG 184.2
So ook moet diegene wat geen proefondervindelike kennis het van die eerste en tweede engele se boodskap nie, die boodskap van ander aanneem wat wel sulke kennis en ondervinding het. Ek het gesien dat net soos Jesus verwerp is, is ook hierdie boodskappe verwerp. Net soos die dissipels verkondig het dat daar verlossing in geen ander Naam onder die hemel is nie, so moet ook die dienaars van God getrou en onverskrokke diegene waarsku wat slegs ‘n deel van die waarhede in verband met die derde boodskap aanneem, dat hulle blymoedig al die boodskappe wat God hulle gegee het, moet aanneem, anders sal hulle geen deel daarin hê nie.EG 185.1
Terwyl die heilige vroue op weg was met die boodskap dat Jesus opgestaan het, was die Romeinse wag besig om die leuenagtige rapport te versprei wat in hulle mond gelê is deur die owerpriesters en ouderlinge, naamlik dat die dissipels in die nag terwyl hulle aan die slaap was, gekom het en die liggaam van Jesus gesteel het. Die Satan het hierdie leuen gelê in die harte en monde van die owerpriesters, en die mense was gereed om hulle woord aan te neem. Maar God het .die saak verseker, en het hierdie belangrike gebeurtenis, waarvan ons verlossing afhanklik is, bo alle twyfel gestel; en dit was onmoontlik vir die priesters en ouderlinge om dit te verdoesel. Getuies is uit die dode opgewek om Christus se opstanding te bevestig.EG 185.2
Jesus het vir veertig dae by Sy dissipels gebly, en groot blydskap in hulle harte gebring namate Hy meer volledig aan hulle die werklikhede van die koninkryk van God geopenbaar het. Hy het hulle opdrag gegee om te getuig van die dinge wat hulle gesien en gehoor het aangaande Sy lyde, dood, en opstanding, dat Hy versoening gedoen het vir die sonde, en dat almal wat wil na Hom toe mag kom en die lewe kan vind. Getrou het Hy vertel dat hulle vervolg en beproef sou word; maar hulle sou krag put uit die herinnering aan hulle ervarings en die woorde wat Hy tot hulle gespreek het. Hy het hulle vertel dat Hy die versoekings van die Satan oorwin het deur beproewing en lyding. Die Satan sou nie meer mag oor Hom hê nie, maar hy sou sy versoekings regstreeks op hulle toespits, en op almal wat in Sy Naam sal glo. Maar hulle kan oorwin soos Hy oorwin het. Jesus het aan Sy dissipels mag gegee om wonders te doen, en Hy het hulle meegedeel dat alhoewel hulle deur bose mense vervolg sou word, sou Hy van tyd tot tyd Sy engele stuur om hulle te verlos. Hulle lewens sou nie geneem word alvorens hulle sending volbring was nie; daarna mag dit vir hulle nodig wees om hulle getuienis met hulle bloed te verseël.EG 185.3
Sy navolgers het blymoedig geluister na Sy lering, en het gretig elke woord aangeneem wat van Sy heilige lippe gekom het. Nou het hulle vir seker geweet dat Hy die Saligmaker van die wêreld is. Sy woorde het diep in hulle harte ingesink, en hulle was jammer dat hulle so gou geskei sou word van hulle hemelse Leraar, en nie meer Sy vertroostende, genadige woorde sou hoor nie. Maar weer is hulle harte deur liefde en groot vreugde verwarm toe Jesus aan hulle gesê het dat Hy weggaan om vir hulle wonings te berei, en dat Hy weer sal kom om hulle te haal, sodat hulle altyd by Hom kon wees. Ook het Hy belowe om die Trooster, die Heilige Gees, te stuur om hulle in alle waarheid te lei. “En Hy het Sy hande opgehef en hulle geseën.”EG 186.1
_______________