Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Eerste Geskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 27—Aan Diegene Wat Onervare Is

    Sommige, het ek gesien, het nie die regte besef van die belangrikheid van die waarheid en die uitwerking daarvan nie, en dikwels handel hulle in die hitte van die oomblik, of uit opgewondenheid, en volg hulle hul gevoelens in stryd met die kerklike orde. Hulle dink dat die godsdiens hoofsaaklik daarin bestaan om ‘n lawaai te maak. Sommige wat so pas die waarheid van die derde engel se boodskap aangeneem het, is sommer gereed om ander te bestraf en te leer wat vir jare in al die waarheid bevestig is, en wat daarvoor gely, en die heiligmakende krag daarvan gevoel het. Diegene wat die vyand so opgeblase laat word het, sal die heiligmakende invloed van die waarheid moet voel, en besef in watter toestand hulle was toe hulle dit gevind het—”ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en nakend.”Wanneer die waarheid hulle begin reinig, en die skuim in hulle lewens begin verteer, soos dit gewis ook sal doen as dit in liefde aangeneem word, sal die een vir wie hierdie groot werk gedoen is nie voel dat hy ryk en verryk is en aan niks gebrek het nie.EG 115.1

    Diegene wat die waarheid bely, en dink dat hulle alles daarvan weet voordat hulle die eerste beginsels daarvan geleer het, en baie voorbarig is om as onderwysers op te tree en diegene te bestraf wat vir jare pal gestaan het vir die waarheid, toon duidelik dat hulle dit glad nie verstaan, en die uitwerking daarvan nie ondervind het nie; want as hulle die heiligmakende krag daarvan geken het, sou hulle die vreedsame vrugte van geregtigheid voortgebring het, en sou hulle nederigheid geleer het onder die soete en kragtige invloed daarvan. Hulle sal vrugte voortbring tot heerlikheid van God, verstaan wat die waarheid vir hulle gedoen het, en hulle sal ander hoër ag as hulleself.EG 115.2

    Ek het gesien dat die oorblyfsel nie voorberei is vir wat op die aarde sal kom nie. Domheid, soos ‘n doodsheid, benewel die verstand van die meeste van diegene wat voorgee dat hulle glo dat ons die draers is van die laaste boodskap. Met die grootste erns het die engel wat by my was uitgeroep, “Maak klaar! maak klaar! maak klaar! want die grimmige toorngloed van die Here sal spoedig kom. Hy sal Sy wraak uitgiet, sonder genade, en julle is nie gereed nie. Skeur julle harte en nie julle klere nie. Daar moet ‘n groot werk gedoen word vir die oorblyfsel. Baie van hulle verknies hulle oor ligte beproewings.”Die engel het gesê, “Legioene van bose engele is rondom julle, en hulle probeer om julle te omhul met hulle vreeslike duisternis, sodat julle verstrik en gevang kan word. Julle laat julle harte te maklik aftrek van die werk van voorbereiding, en van die uiters belangrike waarhede vir hierdie laaste dae. En julle verknies julle oor ligte beproewings, en tree in die grootste besonderhede van klein moeilikhede om dit aan hierdie een en daardie een te vertel. “Vir baie ure praat die betrokke partye, en nie alleen word hulle tyd verkwis nie, maar ook die dienaars van God moet na hulle luister, wanneer die harte van albei partye nie versag is deur genade nie. As hoogmoed en selfsug afgelê sou word, sou die meeste moeilikhede binne vyf minute uit die weg geruim kan word. Engele is gegrief, en God is mishaag deur die ure wat mense bestee om hulleself te regverdig. Ek het gesien dat God Hom nie sal neerbuig en luister na lang betoë van selfregverdiging nie, en Hy wil nie hê dat sy dienaars dit moet doen en so kosbare tyd verkwis wat bestee behoort te wees om sondaars tereg te wys en om siele uit die vuur te trek nie.EG 115.3

    Ek het gesien dat Gods volk op betowerde grond is, en dat sommige byna alle besef verloor het van die kortheid van die tyd en die waarde van die siel. Daar het hoogmoed gekom onder Sabbat houers-hoogmoed in kleredrag en voorkoms. Die engel het gesê, “Sabbat houers sal die eie-ek moet afsterf, en sal moet sterf vir hoogmoed en die liefde vir die goedkeuring van ander.”EG 116.1

    Waarheid, reddende waarheid, moet gegee word aan die hongerlydende mense wat in duisternis is. Ek het gesien dat vele tot God gebid het om hulle nederig te maak; maar as God hulle gebede moet verhoor, dan sal dit deur vreeslike dinge in geregtigheid wees. Dis hulle plig om hulleself te verootmoedig. Ek het gesien dat as selfverheffing sou toegelaat word, sou dit gewis siele verlei, en as dit nie oorwin word nie, sou dit hulle ondergang bewerk. Wanneer iemand homself begin verhef in sy eie oë, en dink dat hy iets kan doen, word die Gees van God aan hom onttrek, en gaan hy voort in sy eie krag totdat hy tot ‘n val kom. Ek het gesien dat een heilige, as hy reg is, die arm van God kan beweeg; maar ‘n menigte ander, as hulle verkeerd is, sal swak wees en niks kan uitrig nie.EG 116.2

    Vele het onwedergebore en trotse harte, en hulle dink meer aan hulle eie onbenullige griewe en beproewings as aan die siele van sondaars. As hulle die heerlikheid van God sou beoog, sou hulle besorg voel oor die siele wat verlore gaan rondom hulle; en namate hulle die gevaar van daardie siele besef, sou hulle ywerig, en met geloof in God, die hande van Sy dienaars sterk, dat hulle onverskrokke, dog in liefde, die waarheid aan daardie siele kan verkondig en hulle waarsku om dit aan te neem voordat die soete stem van genade sou wegsterf. Die engel het gesê, “Diegene wat Sy Naam bely is nie gereed nie.” Ek het gesien dat die sewe laaste plae uitgestort sal word op die onbeskermde hoofde van die goddelose; en dan sal diegene wat in hulle weg gestaan het die bitter verwyte van sondaars moet hoor, en hulle harte sal binne-in hulle beswyk.EG 116.3

    Die engel het gesê, “Julle het na strooitjies gegryp en julle verknies oor nietige beproewings. Ten gevolge daarvan het sondaars verlore gegaan.” God is gewillig om vir ons te werk in ons dienste, en dit is ‘n genot vir Hom om te werk. Maar die Satan sê, “Ek sal die werk verhinder.” En daarop sê sy werktuie,“Amen.”Sogenaamde gelowiges van die waarheid hou hulleself besig met hulle onbenullige beproewings en moeilikhede wat die Satan voor hulle vergroot het. Tyd word verkwis wat nooit weer herwin kan word nie. Die vyande van die waarheid het ons swakheid gesien, God is daardeur mishaag, en Christus verwond. Die Satan bereik sy doel, sy planne slaag, en hy behaal die oorwinning.EG 117.1

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents