Hoofstuk 40—Die Verhoor Van Christus
Die engele, toe hulle die hemel verlaat het, het in droefheid hulle blink krone afgehaal. Hulle kon nie hulle krone dra terwyl hulle Aanvoerder ly, en ‘n doringkroon dra nie. Die Satan en sy engele was in die geregsaal besig om alle menslike gevoelens en medelyde te vernietig. Die lug was swaar en besoedel deur hulle teenwoordigheid. Die owerpriesters en ouderlinge is deur hulle besiel om Jesus te beledig en te mishandel op ‘n wyse wat vir die menslike natuur byna ondraaglik was. Die Satan het gehoop dat sulke smaad en geweld die Seun van God sou beweeg om te kla en te murmureer, of om gebruik te maak van Sy goddelike krag om Homself te bevry uit die mag van die skare, sodat die verlossingsplan tog uiteindelik sal misluk.EG 167.1
Petrus het sy Here nog gevolg ná Hy verraai is. Hy wou graag sien wat hulle met Jesus sou doen. Maar toe hy daarvan beskuldig is dat hy een van Sy dissipels is, het hy uit vrees vir sy eie veiligheid verklaar dat hy die man glad nie ken nie. ‘n Kenmerk van die dissipels was die reinheid van hulle taal, maar Petrus, om sy beskuldigers te oortuig dat hy nie een van Christus se dissipels was nie, het dit die derde maal ontken deur homself te verwens en te sweer. Jesus, wat ‘n entjie van Petrus af gestaan het, het hom met ‘n droewige en bestraffende blik betrag.Toe het die dissipel die woorde onthou wat Jesus aan hom gesê het in die bovertrek, en ook sy eie besliste verklaring, “Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.” Hy het sy Here verloën met vloeke; maar daardie aanblik van Jesus het Petrus se hart laat versmelt, en dit was sy redding. Hy het bitterlik geween en berou gehad oor sy groot sonde; hy het tot bekering gekom, en toe was hy in staat om sy broeders te versterk.EG 167.2
Die skare het geroep om die bloed van Jesus. Wreed het hulle Hom gegésel; hulle het Hom die ou purper koninklike kleed aangetrek, en die doringkroon op Sy heilige hoof gesit. Hulle het ‘n riet in Sy hand gegee, voor Hom neergebuig, en Hom spottend gegroet deur te sê, “Wees gegroet, Koning van die Jode!” Toe het hulle die riet uit Sy hand geneem en Hom daarmee oor die hoof geslaan, sodat die dorings diep in Sy slape gesteek en die bloed teen Sy baard laat afstroom het.EG 167.3
Die engele kon kwalik die toneel verduur. Hulle sou Jesus verlos het, maar die bevelvoerende engele het hulle belet deur te sê dat dit ‘n baie groot losprys is wat betaal moet word vir die mens, maar dat dit voldoende sou wees, en die dood sou verseker van die een wat die mag van die dood het. Jesus het geweet dat die engele toeskouers was by die toneel van Sy vernedering. Die swakste engel sou die spottende menigte magteloos op die grond kon laat neerval, en Jesus verlos het. Hy het geweet dat as Hy dit van Sy Vader begeer het, sou die engele Hom dadelik verlos. Maar dit was nodig dat Hy die geweld van bose mense moes verduur ten einde die verlossingsplan te volvoer.EG 168.1
Jesus het sagmoedig en nederig gestaan voor die verwoede skare, terwyl hulle Hom op die liederlikste wyse beledig het. Hulle het in Sy gesig gespuug—daardie gelaat waarvoor hulle eendag sal wil wegkruip, wat die Godstad sal verlig, en heerliker as die son sal skyn. Christus het nie Sy martelaars kwaadaardig aangekyk nie. Hulle het ‘n ou kleed oor Sy hoof gegooi sodat Hy nie kon sien nie, en toe het hulle Hom in die gesig geslaan, en vir Hom geskreeu, “Profeteer wie dit is wat U geslaan het?” Daar was beroering onder die engele. Hulle sou Hom dadelik verlos het; maar hulle bevelvoerende engele het hulle teruggehou.EG 168.2
Sommige van die dissipels het die moed gehad om in die saal in te gaan waar Jesus was, om Sy verhoor te sien. Hulle het verwag dat Hy Sy goddelike mag sou openbaar om Homself uit die hande van Sy vyande te verlos, en hulle te straf vir hulle wreedheid teenoor Hom. Hulle hoop het opgevlam, of verflou, namate hulle die verskillende tonele gesien het. Met tye het hulle getwyfel en gevrees dat hulle mislei is. Maar die stem wat gehoor is by die berg van verheerliking, en die heerlikheid wat hulle gesien het, het hulle geloof versterk dat Hy die Seun van God was. Hulle het hulle weer die tonele wat hulle gesien het, voor die gees geroep, naamlik die wonderwerke wat hulle Jesus sien doen het in die genesing van die siekes, die opening van die oë van die blindes, en die ore van die dowes, die bestraffing en uitwerping van duiwels, die opwekking van die dode, en die stilmaak van die wind en die see. Hulle kon nie glo dat Hy sou sterf nie. Hulle het gehoop dat Hy nog in krag sou opstaan en die bloeddorstige skare sou gebied om uitmekaar te gaan, soos Hy gedoen het toe Hy die tempel binnegegaan en diegene uitgedryf het wat van die huis van God ‘n handelshuis gemaak het, en hulle voor Hom uitgevlug het asof hulle deur ‘n afdeling gewapende soldate verjaag is. Die dissipels het gehoop dat Jesus Sy mag sou openbaar om almal te oortuig dat Hy die Koning van Israel was.EG 168.3
Judas was vervul met bittere berou en skaamte oor sy vreeslike daad om Jesus te verraai. En toe hy die mishandeling sien wat die Heiland moes verduur, was dit te veel vir hom. Hy het Jesus liefgehad, maar hy het geld meer liefgehad. Hy het nie gedink dat Jesus sou toelaat dat die skare wat hy gelei het Hom gevange sou neem nie. Hy het verwag dat Hy ‘n wonder sou doen en Homself van hulle sou verlos. Maar toe hy die verwoede skare in die geregsaal sien, wat gedors het na Sy bloed, het hy sy skuld diep besef; en terwyl vele Jesus heftig beskuldig het, het Judas sy weg deur die skare gebaan, en bely dat hy gesondig het deur onskuldige bloed te verraai. Hy het aan die priesters die geld teruggegee wat hulle hom betaal het, en hulle gesmeek om Jesus los te laat, en verklaar dat Hy absoluut onskuldig is.EG 169.1
Vir ‘n kort rukkie was die priesters so vererg en verward dat hulle stilgebly het. Hulle wou nie hê dat die mense moes weet dat hulle een van Jesus se volgelinge gehuur het om Hom in hulle hande te verraai nie. Die feit dat hulle op Jesus jag gemaak het soos op ‘n dief, en Hom heimelik gevange geneem het, wou hulle graag wegsteek. Maar die belydenis van Judas, en sy vervalle, skuldige gelaat, het die priesters voor die skare aan die kaak gestel, en bewys dat dit haat was wat hulle beweeg het om Jesus te laat vang. Toe Judas hardop verklaar het dat Jesus onskuldig was, het die priesters geantwoord, “Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien.” Hulle het Jesus in hulle mag gehad, en hulle sou sorg dat Hy nie weer loskom nie. Judas, oorweldig deur angs, het die geld wat hy nou verag het aan die voete van diegene wat hom gehuur het, neergegooi en in angs en vrees het hy homself gaan ophang.EG 169.2
Jesus het baie simpatiseerders gehad onder die skare rondom Hom, en die feit dat Hy niks geantwoord het op die baie vrae wat aan Hom gestel is nie, het die skare verbaas. Onder al die gespot en geweld van die gepeupel, was daar geen frons of teken van onrus op Sy gelaat nie. Hy was waardig en kalm. Die toeskouers het Hom met bewondering betrag. Hulle het Sy volmaakte gestalte en waardige houding vergelyk met die voorkomste van diegene wat as regters oor Hom gesit het, en hulle het vir mekaar gesê dat Hy meer soos ‘n koning gelyk het as enige van die owerstes. Hy het geen tekens getoon dat Hy ‘n misdadiger was nie. Sy oë was sag, helder, vasberade, en Sy voorhoof was breed en hoog. Al Sy gelaatstrekke het getuig van goedwilligheid, en edelheid van beginsel. Sy lydsaamheid en verdraagsaamheid was so anders as die van die mens dat vele gesidder het. Selfs Herodes en Pilatus het ongemaklik gevoel ten gevolge van Sy edele, goddelike houding.EG 169.3
Reeds van die begin af was Pilatus oortuig dat Hy nie ‘n gewone mens was nie. Hy het geglo dat Sy karakter onbesproke was, en dat Hy heeltemal onskuldig was aan die aanklagte wat teen Hom ingebring is. Die engelewat daar op die toneel was, het die oortuigings van die Romeinse goewerneur gesien, en om hom te weerhou om geen aandeel te hê in die oorlewering van Christus om gekruisig te word nie, is ‘n engel gestuur na Pilatus se vrou, wat haar in ‘n droom ingelig het dat dit die Seun van God was met wie se verhoor haar eggenoot besig was, en dat Hy onskuldig is. Dadelik het sy ‘n boodskap aan Pilatus gestuur, en gesê dat sy baie dinge gely het in ‘n droom ten opsigte van Jesus, en sy het hom gewaarsku om niks met daardie heilige Mens te doen te hê nie. Die boodskapper, wat haastig deur die skare gedring het, het die brief in die hande van Pilatus gegee. Terwyl hy dit gelees het, het hy gebewe en bleek geword, en dadelik het hy besluit om niks te doen te hê met die dood van Christus nie. As die Jode die bloed van Jesus wou vergiet, sou hy nie sy goedkeuring gee nie, maar hy sou hom beywer om Hom los te laat.EG 170.1
Toe Pilatus hoor dat Herodes in Jerusalem is, het dit vir hom groot verligting gebring; want hy het gehoop om alle verantwoordelikheid te ontduik in verband met die verhoor en veroordeling van Jesus. Hy het Jesus, en Sy aanklaers dadelik na Herodes gestuur. Hierdie heerser was verhard in die sonde. Die onthoofding van Johannes die Doper het ‘n klad op sy gewete gelaat wat hy nie kon uitwis nie. Toe hy van Jesus hoor en die magtige werke wat Hy gedoen het, het hy gevrees en gebewe, want hy het gedink dat dit Johannes die Doper was wat uit die dode opgestaan het. Toe Jesus in sy hande oorgegee is deur Pilatus, het Herodes die daad geneem as ‘n erkenning van sy mag, gesag, en oordeel. Dit het die twee heersers versoen, want hulle was vyande. Herodes was bly om Jesus te sien, en hy het verwag dat Hy ‘n groot wonderwerk sou doen om hom tevredete stel. Maar dit was nie Jesus se werk om nuuskierigheid te bevredig, of Sy eie veiligheid te soek nie. Sy goddelike, wonderwerkende krag sou gebruik word vir die verlossing van ander, maar nie vir Homself nie.EG 170.2
Jesus het niks geantwoord op die baie vrae wat Herodes Hom gestel het nie; ook het Hy nie Sy vyande wat Hom heftig beskuldig het, geantwoord nie. Herodes het hom vererg omdat Jesus skynbaar nie sy mag gevrees het nie, en met sy soldate het hy die Seun van God verag, bespot, en mishandel. Maar hy was nogtans verbaas oor die edele, goddelike houding van Jesus onder die skaamtelose mishandeling, en omdat hy gevrees het om Hom te veroordeel, het hy Hom weer teruggestuur na Pilatus.EG 171.1
Die Satan en sy engele het Pilatus versoek en geprobeer om hom te lei om sy eie ondergang te bewerkstellig. Hulle het aan hom gesê dat as hy nie deelneem aan die veroordeling van Jesus nie, sou ander dit doen; die skare het gedors na Jesus se bloed, en as hy Hom nie oorlewer om gekruisig te word nie, sou hy sy gesag en wêreldse eer verloor, en hy sou beskuldig word dat hy ‘n volgeling van die bedrieër is. Uit vrees dat hy sy mag en gesag sou verloor, het Pilatus toegestem tot die dood van Jesus. En alhoewel hy die bloed van Jesus op Sy aanklaers laat neerkom het, en die skare dit aanvaar en uitgeroep het, “Laat Sy bloed op ons en ons kinders kom,” het dit Pilatus nie verskoon nie; hy was skuldig aan die bloed van Christus. Vir die bevordering van sy eie selfsugtige belange, en weens sy liefde vir die eer van die groot manne van die wêreld, het hy ‘n onskuldige man oorgelewer om te sterf. As Pilatus sou gehandel het volgens sy oortuigings, sou hy geen aandeel gehad het in die veroordeling van Jesus nie.EG 171.2
Die voorkoms en woorde van Jesus tydens Sy verhoor het ‘n diep indruk gemaak op die gemoed van baie wat daar teenwoordig was. Die gevolge van die invloed wat daar uitgeoefen is, was kenbaar ná Sy opstanding. Onder diegene wat toe by die kerk aangesluit het, was daar vele wie se oortuiging gekom het gedurende die verhoor van Jesus.EG 171.3
Die Satan se woede was groot toe hy sien dat al die wreedheid wat hy die Jode beweeg het om Jesus aan te doen, geen verset van Sy kant uitgelok het nie. Alhoewel Hy die menslike natuur aangeneem het, is Hy ondersteun deur ‘n goddelike sielsterkte, en Hy het geensins afgewyk van die wil van Sy Vader nie.EG 171.4
_______________