Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    HOOFSTUK NEGEN-EN-VEERTIG—VOORBEREIDING VIR DIE FINALE KRISIS

    (Deel VI, bls. 404-410.)

    DIE groot krisis lê net voor ons. Om sy versoekings en verleidings te weerstaan en om sy vereistes na te kom, sal volhardende geloof vereis. Ons kan egter triomfantelik seëvier; nie een biddende, wakende en gelowige siel sal in die vyand se strikke val nie.UG1 294.1

    In die tyd van benoudheid wat ons voor die deur staan, sal die Here diegene veilig hou wat die woord van sy lydsaamheid bewaar het. Aan sy getroues sal Christus sê, “Kom, My volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik todat die grimmigheid verbygaan.” Jes. 26: 20. Die Leeu van Juda, so vreeslik vir die wat Sy Genade verwerp, sal vir die gehoorsames en getroues, die Lam van God wees. Die wolkkolom wat toorn en skrik beteken het vir die oortreder van die wet van God, is lig en genade en verlossing vir die wat Sy gebooie bewaar het. Die arm wat sterk is om die weerspanninge te slaan, sal sterk wees om die getroue te verlos. Elke getroue sal gewis ingebring word. “Hy sal engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die een end van die hemele af tot by die ander end daarvan.” Matt. 24: 31.UG1 294.2

    Broeders, aan wie die waarhede van die Woord van God geopenbaar is, watter rol gaan u speel in die slottonele van die wêreld se geskiedenis? Is u bewus van die indrukwekkende werklikhede? Besef u die groot voorbereidingswerk wat in die hemel en op aarde aangaan? Laat almal wat die lig ontvang het, wat die geleentheid gehad het om die profesie te lees en te hoor, ag slaan op die dinge wat daarin geskryf is, “want die tyd is naby.” Niemand moet nou speel met sonde nie, die oorsprong van al die ellende in die wêreld. Moenie langer in ongevoeligheid en onverskilligheid voortlewe nie. Moenie onseker bly oor jou siel se lot nie. Maak seker dat jy geheel aan die Here se kant staan. Laat die getroue harte en bewende lippe uitroep, “Wie kan bestaan?” Is julle in hierdie laaste kostelike genade-ure besig om die beste boumateriaal te gebruik in julle karaktervorming? Is julle siele gereinig van elke vlek? Het julle die lig gevolg? Het julle werke ooreengestem met julle geloofsbelydenis?UG1 294.3

    Werk die genade van die Here so in julle dat Sy invloed julle versag en tem? Het julle harte wat kan voel, oë wat kan sien, ore wat kan hoor? Die verkondiging van die ewige waarheid aangaande die nasies op aarde, is dit verniet? Hulle verkeer al onder banvloek en berei hulle voor vir die oordele van God; in die teenswoordige tyd wat swanger is met ewige gevolge, behoort die uitverkore volk aan wie die gewigtige waarheid toevertrou is, in Christus te bly. Laat julle julle ligte skyn om die nasies wat in sonde vergaan, te verlig? Besef julle dat julle die Here se gebooie moet verdedig voor die wat hulle versmaai?UG1 295.1

    Is dit moontlik om formeel en ten dele gelowig te wees en nog te lig bevind te word en die ewige lewe te verloor? Is dit moontlik om van die Bybelse opdragte te aanvaar en as Christen gereken te word, en tog om te kom omdat jy te kort skiet aan die noodsaaklike vereistes van ‘n Christelike karakter? As jy die Here se waarskuwings veronagsaam, as jy sonde koester of verskoning daarvoor soek, dan verseël jy jou siel se lot. Jy sal in die weegskaal geweeg word en te lig bevind word. Genade, vrede en vergifnis sal verewig ingetrek wees, dan sal Jesus al verbygegaan het en jou gebede en smekinge sal Hom nooit meer bereik nie. Laat ons die ewigblywende werke doen terwyl die genadedeur nog oopstaan en Christus nog vir ons as middelaar optree.UG1 295.2

    DIE wederkoms van Christus sal nie meer lank vertraag word nie. Laat dit die grondtoon van elke boodskap bly.UG1 296.1

    * * * * *

    DIE salige hoop van die tweede verskyning van Christus en die gebeurtenisse wat daarmee gepaard sal gaan, behoort dikwels aan die gelowiges verkondig te word. As ons verwag dat ons Here spoedig sal kom, sal ons aardse dinge beskou as hol en nietig.UG1 296.2

    * * * * *

    DIE groot slag van Armageddon is op hande. Die Een op wie se kleed geskrewe is, “Die Koning van die konings en die Heer van die here,” sal spoedig die hemelse leërs voort lei. Binnekort sal die werk van die getuies vir God afgedaan wees.UG1 296.3

    * * * * *

    ONS moet ons enge, selfsugtige planne verwerp en onthou dat ons die belangrikste en dringendste werk voor ons het. Deur die werk te doen, verkondig ons die eerste-, tweedeen derde-engel-boodskap. Op die manier word ons voorberei op die koms van daardie ander engel uit die hemel wat die aarde met sy heerlikheid sal verlig.UG1 296.4

    * * * * *

    DIE dag van die Here nader ongemerk, maar die sogenaamde groot en wyse manne ken nie die tekens van Christus se wederkoms of die einde van die wêreld nie. Ongeregtigheid neem toe en die liefde van vele verkoud.UG1 296.5

    Daar is duisende der duisende en miljoene op miljoene, wat tans beslis vir die ewige lewe of die ewige dood. Die man wat alle aandag aan sy geld bestee, die man wat in dobbel sy plesier vind, die man wat graag toegee aan ‘n verdorwe eetlus, die liefhebber van vermaak, die teater en die danssaal, stel die ewigheid buite rekening. Die hele versugting van hulle lewe is, Wat sal ons eet? Wat sal ons drink? Waarmee sal ons gekleed word? Hulle maak nie deel uit van diegene wat hemelwaarts gaan nie. Hulle leier is Satan en saam met hom sal hulle vernietig word.UG1 296.6

    TENSY ons tereg besef hoe belangrik elke verbygaande oomblik is, en ons klaarmaak om in die groot dag van die Here te staan, sal ons ontroue dienaars wees. Die wagter moet weet hoe ver die nag gevorder het. Almal wat die waarheid vir die teenwoordige tyd aanneem, moet besef hoe ernstig alles is. Hulle moet handel met die oog op die dag van die Here. Die oordele van God sal binnekort op die wêreld uitgestort word en ons behoort ons vir daardie groot dag voor te berei.UG1 297.1

    Ons tyd is kostelik. Ons het maar baie min genadetyd oor om klaar te maak vir die toekomstige, onsterflike lewe. Ons kan nie onverskillig te werk gaan nie. Ons moet toesien dat ons die Woord van God nie net oppervlakkig lees nie.UG1 297.2

    * * * * *

    VANDAG, net soos toe Christus op aarde was, is dit waar dat elke aanval wat die Evangelie op die vyand se terrein doen, heftig teengestaan word deur sy ontsaglike leers. Die stryd wat ons voor die deur staan, sal die felste wees wat ooit beleef is. Al word Satan voorgestel as ‘n sterk, gewapende mag, tog sal hy oorweldig word en elkeen wat saam met hom afvallig word liewer as om getrou te bly, sal saam met hom omkom.UG1 297.3

    * * * * *

    DIE Gees van God wat tot nog toe dinge in bedwang gehou het, word stadigaan van die aarde teruggetrek. Storms, rukwinde en orkane, brand en oorstromings, rampe op land en see, volg snel opmekaar. Die wetenskap probeer om hierdie dinge te verklaar. Tekens wat rondom ons die koms van die Seun van God aanwys, word makliker aan die verkeerde oorsake toegeskryf as aan die regte. Die mens kan nie die engele gewaar nie — hulle wat die vier winde in bedwang hou sodat hulle nie op die aarde sal woed voordat die diensknegte van God verseël is nie. Maar wanneer God sy vier engele gebied om maar die winde te los, sal die gesig onbeskryflik wees.UG1 297.4

    AAN diegene wat teenswoordig onverskillig is, kom Christus se waarskuwing: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit My mond spuug.” Openb. 3: 16. Die uitdrukking “uit My mond spuug” beteken dat Hy nie jou gebede en liefdesuitinge aan God kan opdra nie. Hy kan gladnie jou lering van Sy Woord of jou geestelike werk goedkeur nie. Hy kannie jou godsdiens aan God voorstel met ‘n versoek om genade nie.UG1 298.1

    * * * * *

    As die gordyn kon weggetrek word, as julle God se doel en oordele wat spoedig op die wêreld sal uitgestort word, kon verstaan; as julle julle eie houding kon sien, sou julle vrees en bewe vir julle eie siele en die van julle medemense. Julle smeekbedes sou uit die benoudheid van julle siele na die hemel opgestyg het. Julle sou tussen die poort en die altaar geween het met belydenis van julle geestelike blindheid en afvalligheid.UG1 298.2

    * * * * *

    “BLAAS die basuin op Sion, heilig ‘n vasdag, roep ‘n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders. . . . Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek. Laat die priesters, die dienaars van die Here, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: O Here, spaar U volk, en gee U erfdeel nie, oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie.” Joël 2: 15-17.UG1 298.3

    “Bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle harte en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ‘n seen sal agterlaat?” Verse 12-14.UG1 298.4

    * * * * *

    NA Israel se afvalligheid en bittere vergelding, was God se genadeboodskap aan die boetvaardige volk: “Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal van Agor tot ‘n deur van hoop, en daarvandaan sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het.”UG1 298.5

    * * * * *

    “EN in dié dag, spreek die Here, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baal nie. . . . En Ek sal Mv met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in barmhartighede. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die Here ken.” Hoséa 2: 14-20.UG1 299.1

    * * * * *

    “EN julle sal weet dat Ek onder Israel is, en dat Ek die Here julle God is, en niemand anders nie; en My volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.” Joël 2:27.UG1 299.2

    VIR ons op wie die eindes van die aarde gekom het, is daar waarskuwings, bestraffings en beloftes. “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” 1 Thess. 5: 6.UG1 299.3

    “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery of dronkenskap en die sorge van die lewe nie, en die dag julle nie skielik oorval nie.” Lukas 21: 34.UG1 299.4

    * * * * *

    “WAAK en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.” Markus 14: 38. Waak teen die heimelike koms van die vyand, waak teen die ou gewoontes en natuurlike neigings, sodat hulle nie weer die oorhand kry nie; dryf hulle terug en waak. Waak teen u gedagtes en planne, sodat hulle nie selfsugtig word nie. Waak oor die siele wat Christus met Sy eie bloed gekoop het. Waak vir geleenthede om goed te doen.UG1 299.5

    * * * * *

    WAAK “dat Hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap kry nie.” Markus 13: 36.UG1 299.6

    * * * * *

    KERKLEDE moet onthou dat die feit dat hulle name op die lidmaatregister staan, hulle nie sal red nie. Hulle moet hulleself beproef aan God voorstel, as werkers wat hulle nie hoef te skaam nie. Dag vir dag moet hulle voortgaan om karakters te bou volgens die voorskrifte van Christus. Hulle moet in Christus bly en gedurig in hom glo. Op hierdie wyse sal hulle opgroei tot volwasse manne en vroue in die mate van die voile grootte van Christus—opgeruimde, dankbare Christene, gelei deur God tot die voller en heerliker lig. As dit nie hulle ondervinding is nie, sal hulle onder diegene gevind word wat eendag in bittere wening sal uitroep: “Die oes is verby, die somer is op ‘n end, en ons is nie verlos nie! Waarom het ek nie in die Rotsvesting gaan skuiling soek nie? Waarom het ek die saligheid van my siel gering geskat en die Gees van genade versmaai?— Deel IX, bls. 47, 48.UG1 299.7

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents