Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Vertrou op God en Gaan Voorwaarts

    Hierdie lesse is vir ons lering gegee. Ons behoort ons geloof op God te vestig; want ons gaan ‘n tyd van groot beproewing tegemoet. Op die Olyfberg het Christus die volgende opsomming gegee van die dinge wat op die aarde sou kom voor Sy wederkoms: “Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë.” “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” Hoewel hierdie profesieë gedeeltelik vervul is tydens die verwoesting van Jerusalem, is hulle ook van regstreekse toepassing op die laaste dae.UG1 162.2

    Ons staan op die vooraand van vreeslike en plegtige gebeurtenisse. Die profesieë tree vinnig in vervulling. Die Here staan voor die deur. Eerlank sal daar vir alle lewendes ‘n uiters belangrike tydperk aanbreek. Die ou stryde van die verlede sal weer herlewe; en daar sal nuwe stryde ontstaan. Niemand kan hom die tonele voorstel wat nog op hierdie aarde sal afgespeel word nie. Satan is besig om te werk deur menslike werktuie. Diegene wat pogings aanwend om die konstitusie te verander ten einde Sondagwetgewing te verkry, het nie die geringste besef van die uiteindelike gevolge nie. Ons staan voor ‘n krisis.UG1 163.1

    Maar die diensknegte van God moenie op hulleself vertrou in hierdie groot stryd nie. In die gesigte wat aan Jesaja en Esegiël en Johannes gegee is, sien ons hoe nou die hemel verbonde is met die gebeurtenisse wat op die aarde plaasvind, en hoedat God sorg vir diegene wat aan Hom getrou is. Hierdie wêreld is sonder ‘n regeerder. Die program van die aanstaande gebeurtenisse is in die hande van die Here. Die Majesteit van die hemel beskik oor die lot van die nasies sowel as oor die lotgevalle van Sy kerk.UG1 163.2

    Ons kwel ons te veel oor die sorge en moeilikhede van die werk van die Here. Die verantwoordelikheid rus nie op die skouers van sterwelinge nie. Ons behoort op God te vertrou, in Hom te glo en voorwaarts te gaan. Die onvermoeide wag wat die hemelse boodskappers hou en die gedurige diens wat hulle aan die aardbewoners betoon, is bewys dat Gods hand die wiele binne-in die wiele bestuur. Die Meester sê aan elkeen wat deel het aan Sy werk, soos Hy aan Kores vanouds gesê het, “Ek gord jou hoewel jy My nie geken het nie.”UG1 163.3

    In die gesig wat Esegiël gesien het, het God Sy hand gehou onder die vlerke van die gerubs. Dit is om Sy diens-knegte te leer dat dit goddelike krag is wat aan hulle sukses besorg. Hy sal deur hulle werk as hulle die sonde sou aflê en rein van hart en lewe sou word.UG1 163.4

    Die helder lig wat tussen die lewende wesens beweeg het soos blitse, stel die spoed voor waarmee die werk eindelik sal voleindig word. Hy wat nooit slaap nie, maar wat gedurig werk om Sy planne ten uitvoer te bring, kan Sy werk ook in eensgesindheid laat voortgaan. Wat vir die menslike verstand deurmekaar en verward lyk, laat die hand van God met volkome ordelikheid voortgaan. Hy kan planne maak wat die planne van bose mense sal verydel; en Hy sal die versinsels van diegene wat kwaad smee teen Sy volk, in die war stuur.UG1 163.5

    Broeders, dis nie nou tyd om te treur en neerslagtig te wees nie; dis geen tyd om toe te gee aan twyfel en ongeloof nie. Christus lê nie vandag in Josef se nuwe graf wat met ‘n groot steen en die Romeinse seël verseël is nie; ons het ‘n verrese Heiland. Hy is die Koning, die Here van die leërskare; Hy sit tussen die gerubs; en te midde van die stryd en oproer onder die volke, beskerm Hy steeds Sy volk. Hy wat in die hemele regeer, is ons Verlosser, Hy verstaan elke beproewing. Hy hou toesig oor die beproewingsvuur wat elke siel moet beproef. Wanneer die vestings van konings verpletter is, wanneer die grimmigheid van God op Sy vyande uitgestort word, sal Sy volk veilig in Sy hande wees.UG1 164.1

    * * * * *

    “Heilig hulle in U waarheid; U woord is die waarheid. Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees. Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”UG1 164.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents